Het jy al op iemand afgekom wat kafoefel op ‘n snaakse plek?
Ons het vandag in die Palmietrivier onder hierdie brug gaan swem, so ent op in die rivier is ‘n natuurlike borrelbad – MAGIC is nie die woord nie! Die borrelbad is privaat – dis met groot klippe omring. By die brug klouter jy met so mooi paadjie af tot op die klippe, maar dan swem jy rivier-op vir seker so 50 m, die water vloei stil genoeg daar, en daar is klippe tussenin waar jy kan rus. Dis seker net so 50 m tot by die ‘borrelbad’, maar dit het gevoel soos die Midmar myl stroomop!
Dit laat my toe weer dink aan ‘n vorige keer wat ons daar gaan swem het. So ent op, kon ons hoor daar is reeds mense, en ‘n meisie het so lekker gegiggel. Hoe nader ons gekom het, hoe duideliker het die aard van die gegiggelry geword! Ons het lekker gelag, terwyl ons aan ‘n klip hang, om die kafoefelende couple genoeg kans te gee, dit moes vir hulle hengse spesiaal gewees het. Toe die geluide begin aandui dat hulle weer mense kan aankyk, het ons al hoe harder begin praat om hulle te waarsku ons is onderweg. Dis darem wonderlik om jonk en verlief te wees! Twee oulike kinders, hulle het bietjie gesels soos ons by mekaar verby is. So twee jaar getroud, die twee. En ek dink sy het geweet ons weet…
Ja, OK, ons piekniek maar op die klippe en sukkel die steiltes uit, en die jonges kafoefel. Ons het immers ons beurt gehad…
Hierdie foto is nie vandag geneem nie, maar die water het net so gelyk. Dalk bruiner, meer die tipiese amber bergwater kleur.
En ja. Ons besef inderdaad hoe bevoorreg ons is. Ons het in daardie borrelbad gesit en Dankie gesê vir die voorreg om in hierdie wonderlike omgewing te kan woon.


Comments on: "Kinders moenie in die water mors…" (30)
Ek het ook al daar afgespring. Dis HEERLIK! Lank terug, natuurlik
Ek glo nie ek was al ooit in my lewe so braaf nie!
In die middel van die —— se swembad is ‘n fontein. As mens onderdeur beweeg tot teenaan die fontein kan niemand jou sien nie. Wel ek hoop nie so nie.
Het jy nie die ouerige paartjie opgemerk wat subtiel ‘n rukkie gewag het nie?
Nou dat jy dit noem…
Ai maar dis darem PRAGTIG daar!! En ja, die jong liefdie is mooi, ek is bly julle kon vir hulle ‘n bietjie kans gee, baie bedagsaam!
Ons bly in een van die mooiste stukkies van ons land!
Ek is al op afgekom, maar dit daar gelaat.
Ek wil hoor…
Toemaar ek sal nie vertel nie…
Ek ook Murphy. Deur die polisie. Maar dis ook eerder daar gelaat
Julle tweetjies sal moet vertel!
Pragtige beskrywing, pragtige foto’s …. Die hele spul is net BAIE wyd. Ek moes vorentoe en agtertoe (of is dit heen en weer) rol om te kan lees. Kan mens iets daaraan doen? Ek sit so lekker lui hier in die stoel….
Hierdie kant pas alles mooi in die skermpie?
Ek sou natuurlik 7 kleure gebloos het en waarskynlik begin giggel het.
Nog nie iemand betrap nie, maar was al in ‘n woonstelkompleks met baie dun mure.
Nog nooit op so iets afgekom nie…..miskien was ek nog altyd die ander iemand
Dalk was dit nog jy wat ons gehoor het…
Voer my terug tot by die watervalletjie in die woude naby Nature’s Valley. As jy nie daarvan weet nie kan jy digby op die voetpaadjie verbystap en niks wyser wees nie. Lekker herinneringe aan jonk en sorgelose dae…
Deesdae nog net relatief jonk (-erig) en bietjie minder sorgeloos.
Dankie vir die spesiale pos.
Gidi, dis lekker as mens kan terugkyk op jou lewe en besef jy het soveel ervaar, dat jy nou kan rustiger wees met hoe jy dinge doen. Best of both worlds, die ouer wees.
Voer my terug na ‘n spesiale waterval daar in die oerwoude naby Nature’s Valley. Die soort plek waar ‘n mens digby op die voetpaadjie kan verbystap sonder om te weet dis daar. Lekker om jonk en sorgeloos te kon wees.
Pragtige foto’s, en jou verhaaltjie voer ons oues ver terug na ons eie jongdae toe.
Ja, so het ons ook seker almal ons stories…
Julle is baie bevoorreg om daar te bly (maar dit weet jy
) sou wat wou gee om ook in daardie borrelbad te sit. Ja, voorwaar ons was ook jonk, ek onthou die aand van die krappe
Vertel van die krappe, Kameel… En ek rep maar nie ‘n woord oor die rugspier en die knie en die oopgesnyde kleintoontjie nie. Lekker op die klippe geval…
‘n Donker aand, ‘n kombers, ‘n lantern en ‘n uitsien na ‘n nag op die strand. Maar toe die lig op die sand skyn sien jy net krappe, en net daar verdwyn alle romantiese gedagtes.:( Maar gelukkig is daar baie ander mooi herinneringe.
Ek kan jou sien op die kombers gril vir die krappe!
Ag hoe lekker !
Mooi storie!
Dit is nou ‘n baie spesiale plekkie! Jou blog het ‘n vars nuwe voorkoms!
Dis wonderlik daar, Bileam. Is jy nou al OK met die leë kamer?