Tags
DIY, Doen dit Self, Kleinmond, Kleinmond Self-Catering Accommodation, Kleinmond Selfsorg Akkommodasie
Doen jy dit self, of laat jy dit doen? Mens kry mos ekstreme mense na altwee kante toe, mense wat iemand inkry om ‘n prop om te ruil, en dan kry jy – MaanMan.
Hy skrik vir niks, hy het al teëls gedoen (netjieser as enige ander stukkie vloer of muur in enige van ons drie wooneenhede. Hy het al plumbing gedoen, en sy pype loop reguiter as dié wat die plumber gedoen het wat ons huis gebou het. Hy het al eiehandig ‘n klomp dakplate vervang. Verfwerk, deegliker as enige verwer wat tot dusver in ons diens was, en meer lae. Hierdie groen naambord, het hy intussen vervang deur ‘n netjiese raam te maak, met ‘n wit randjie binne die groen raam, en hy het net die letters en die bedjie laat oordoen op groen plaat. Verlede jaar het hy ons kamerkaste oorgedoen, netjieser as enige kombuiskas wat deur ons kasteman ingesit is.
Ons het mos hierdie huis-met-potensiaal gekoop 10 jaar gelede, wat ‘n bietjie TLC nodig gehad het. (Eintlik jok ek, die eiendomsagent wou nie die huis aan ons verkoop nie, hy het gereken hy kan vir ons beter plekke vir dieselfde geld wys) Needlesss to say, ons intuïsie was reg, en die eiendomsagent werk nou by die hardewarewinkel. (Mag ek noem, tot en met ons aftrede, het hy ‘sagte handjies’ gehad, nooit iets self gedoen nie.)
Ja, ons breek en ons bou. Die S-woord. Self. Ons is darem al deur ‘n paar sulkes, ‘n badkamer is sommer tjoef-tjaf en dis kafgedraf. Die badkamer het self besluit dis tyd, die wasbak het spontaan sulke fyn krakies begin maak, sommer ‘n klomp, en die toilet ook. (Die woonstel langsaan se teëls het gekraak, en ander het losgegaan, as die see regtig wild is, vibreer die ondergrondse klipplate) Die feit dat die toilet effens skeef staan, en die vorige mense sulke lelike hompe gom gebruik om ‘n groot kraak te seël, het het hom nooit gewild gemaak nie. Die bad se helling is boonop nie lekker nie, die handvatsels effens los, en die teëls het gelyk asof ‘n huisvrou en haar dogtertjie dit gou een middag na skool opgeslap het. So alles word uitgebreek en afgekap en losgeslaan een oorgedoen. Self.
Daar is vandag mure gechase vir pype, en die arme MaanMan het homself toegemaak in daardie klein badkamertjie (om gemors te spaar), met plastiekbrille en so kinky klappie oor die neus en mond. As daardie stof my longe hier bo toetrek (deur is toegestop sover moontlik), hoe moes hy nie voel nie? Ek het darem so min of meer daardie lagie wit poeier van alles afgevee, maar met elke ritmiese kap teen daardie muur syfer dit maar weer stelselmatig neer.
Elke middag tydens so ‘n projek is hy stokflou, maar tevrede. En hy is soos ‘n kind met nuwe toys. OK hy ry ook natuurlik kort-kort om nuwe toys te gaan koop… Soms wonder ek of arbeid nie goedkoper is as al die toys nie…