Dellie het nou vir my werk uitgedeel, en dit terwyl ons tiener kleinkind en sy jong vriend hier kuier. Om twee 17-jariges gevoed, ge-entertain en skoon gekleed te hou, neem tyd… Maar hulle kuier sluit sommer aan by die opdrag, om die pleb in my te ontbloot.

Eerstens, as ek kinders of kleinkinders op die lughawe gaan haal, storm ek hulle en druk en soen, tot almal se ontsteltenis en diepe skaamte.  Ek het ook al ‘n foto geneem soos ‘n kind aankom, maar moes sweer dat ek nooit weer sal nie…

Dan kyk hulle af en sien my rooi Crocs… En skaam hulle verder. Ek hét mooi boots, maar as ek ver moet loop, en dit sluit lughawens in, dra ek my rooi Crocs. Met sokkies.

Soos Dellie, drink ek bier uit ‘n bottel. Black Label. En so fakeen what? Dis vir my die lekkerste. Ons bly twee blokke van die strand af, en dis lekker om op ‘n mooi dag af te stap en op die dek by die restaurant daar te sit met ‘n bier. Uit ‘n bottel. Dan bestel ons een groot bord chips, en eet dit met ons hande. En ons dip elke chip in ‘n bol tamatiesous.

Ek dra geen grimering, behalwe ordentlike onderlaag nie. Probleme met my oë is nou ‘n handige verskoning, ek het nog nooit van ooggrimering en maskara gehou nie. My hare begin grys strepe maak, en dis myne. Na al die jare se gekleurdery, besef ek nou eers ek hóú van my natuurlike haarkleur.

Daar is nog baie dinge wat die lagie vernis op my laat deurskyn, maar hoe ouer ek word, hoe minder gee ek om wat wie dink. Ek doen wat vir my lekker is, waar en wanneer ek wil.

Dis maar eintlik die bottomline. En as dit van my ‘n pleb maak, aangename kennis! Ons is maar almal eintlik net bloed en bene…

Nou kan Murphy vir ons wys waarvan sy aanmekaargesit is!