Die sleutel haak effens as ek dit vir die eerste keer in die slot draai voordat dit skietgee en sag toeklik.
Die kamer lyk skielik kleiner as netnou, asof die meubels nou nader aan mekaar is. Marien het gesukkel om die bed op te maak, met dié dat die bedkassie te ná aan die bed staan. Sy het niks gesê nie, maar ek het gesien hoe sy na my kyk toe sy aan die kassie probeer skuif het. Dalk het sy gewonder hoe ek met my knokkelvingers die bo-laken elke dag om die deken gevou gaan kry in die té min spasie.
So ’n trekkery is uitputtend, maar Marien het die meeste van die uitpakwerk gedoen. Willem het hom darem verwerdig om die swaar bokse aan te dra, maar hy kon nie gou genoeg wegkom nie. Ook maar goed; Marien is na al die jare nog half op haar senuwees as hy naby is.
Had sy maar destyds kom praat. Net gister nog toe sy so ongeduldig was omdat my sorteerwerk nie klaar was nie, wou ek vra, maar haar ken het weer dáár in die lug gestaan.
Wis sy maar van die seer in my hart om my goedjies deur te gaan en die laaste spore van Danie uit te wis. Niemand het ooit van Danie geweet nie en hy moet nou maar in my hart woon. Net een laaste flenter papier waarop sy handskrif is, het ek in ’n boek gesit.
Hier is net plek vir een klein boekrak en ek kon net my kosbaarste boeke saambring. Marien het darem ’n klompie gevat, maar die res is net so in bokse in. Solank dit maar op ’n plek beland waar dit gelees word.
Ek sal moet eetsaal toe; dit help nie om langer uit te stel nie. Die gang voel langer as wat hy is. Die knie wil weer nie vandag nie. Dan moet ek eenkant toe staan dat die man met sy rystoel kan verbywiel. Die gang na die eetsaal het ’n klein opdraandjie en ek sien die verbete trek op sy gesig om ekstra spoed te kry. Hy konsentreer om veilig verby te kom en kyk nie op nie.
Dan is hy by my. Alles begin draai toe ek sy profiel sien. Die jare het aan hom gebeitel en sy kop is amper wit, maar dis hy. Amper gryp ek die reling mis. Teen die tyd dat die duiseligheid bedaar, is hy verby. Kan dit wees? Danie? Hiér? Na al die jare. In ’n rystoel. Ek voel weer hoe sy hande om my borste wat eens was, kelk.
“Ag my darling, eendag gaan ons dalk by mekaar uitkom. Saam op die ouetehuis se stoep sit, of iets.”
Hy moes gesien het hoe ek veg teen die trane.
“Solank jy net nie my rystoel se wiele afblaas nie.”
demoerin said:
Dit is mooi. Hartseer. Vreugdevol. Alles in een.
LikeLike
MaanKind said:
Dankie, dis juis wat ek probeer doen het. Dankie dat jy dit raaklees.
LikeLike
Slakkelak said:
Mooi geskryf!
LikeLike
MaanKind said:
Dankie!
LikeLike
toortsie said:
Dis so mooi. Ek het gelees en gelees, toe sien ek die datum – 2031!! 🙂
LikeLike
MaanKind said:
Dankie…
LikeLike
Bileam se Donkie said:
Uitstekend!
LikeLike
MaanKind said:
Dankie, Bileam. Gaan dit drem nog goed so alleen sonder mev Donkie?
LikeLike
Bileam se Donkie said:
Nee, die Donkie is net ‘n halwe wese sonder sy vroutjie aan sy sy…
LikeLike
Lana Wood said:
Dit is tog so mooi, maar hartseer. Nou wil ek die res van die storie hoor 😉
Nou een aand na die werklike verhaal van ‘n ou oom en tannie, wat na 58 jaar weer bymekaar uitgekom het, gekyk. Dis te kosbaar om die twee ou lyfies so saam te sien loop. Sy se hy het ‘n manier gehad om so onderdeur sy oogwimpers na haar te loer – na al die jare doen hy dit nog, en dit laat haar hart nogsteeds warm klop.
LikeLike
MaanKind said:
Die res van die storie is in Viersprong, Lana. Dis eintlik eerste geskryf.
LikeLike
lanawood123 said:
Ek het die “sample” gelees – twee verhale… def nie die een nie. Gaan Viersprong kry.. sal mos nie, nie kan weet wat het van die twee geword nie.
LikeLike
MaanKind said:
Die verhaal se naam is Skryf my storie, en het nogal goeie kommentaar van resensente gekry destyds.
LikeLike
Annemari Coetser said:
Dit bly n mooi storie hierdie. Dit vat aan mens se hart.
LikeLike
lidiatheron said:
Baie mooi.
Dit beaam wat ek altyd sê – mens moet drome hê. Moet nooit jou drome begrawe of weggooi nie. Solank jy asemhaal kan hulle nog waar kom. Indien nie, hou hulle jou ten minste aan die gang.
Dis wanneer jy jou drome weggooi wanneer jy ‘huis leegmaak’ wat jy na die laaste rusplek gaan net om dood te gaan.
Waar H woon, weet ek van ten minste twee ou tannies wat al 30 jaar daar woon. Hulle het op die ouderdom van 65 gegaan. Die een tannie spesifiek, is so wakker soos ‘n akker.
Dan weet mens ook nooit of jy een van jou jeugdrome daar raakloop nie. Al is dit net vir gesels en juis om op die stoep te sit en lag oor hul vervloë jeug.
LikeLike
MaanKind said:
En dalk is sy onnutsig genoeg om sy rystoel se wiele af te blaas?
LikeLike
Son said:
Dis hartseer. Soms mors mens ‘n lewe om.
LikeLike
MaanKind said:
Net so Son. En sal ons ooit weet of ons die regte keuses by die regte paadjies maak?
LikeLike
amipatat said:
Dit is so mooi – maak mens bietjie broos !
Ja- partykeer het mens ‘n herinnering wat net jy van weet- maar oudword is ook nie vir sissies nie !!
LikeLike
MaanKind said:
Ek wonder baie dae oor die oumense se herinneringe. Hulle het mos ook iefdes en harte en dinge gehad? Net omdat mense oud raak, beteken mos nie hulle voel nie meer daardie nie?
LikeLike