Tags

, , , , ,

I stand corrected! Vandag was ons die slagoffers van ons eie vooroordeel, en ons kon maar net lag. What you resist, will persist.

Matrieks jol elke jaar na die eindeksamen lekker by Plett, en ons hoor die vreeslikste stories van wat in Margate aangaan, jaar vir jaar.

Die Burger loer in by die matriekmakietie in Plettenbergbaai.

Ons het vandag bietjie kos gaan koop voor die vakansie, sodat ons vrieskas goed gestock is en ons die aankoop van daaglikse vars goed vroegoggend kan afhandel, voor die vakansiegangers die winkels tref. As jy in ‘n vakansiedorp woon, moet jy aanpas, want die vakansiemense het net een maal per jaar die voorreg van sand, son en see. Hulle bring ‘n vibe na ons dorpe toe, en dit help ons ekonomie. Ons groei uit ons nate uit hier in Kleinmond! Daarom kyk ek maar weg as hulle ons omloop, ons spaadjieblommies vertrap en ons oor die algemeen stoomroller. Want hulle is Met Vakansie. En ek gun dit vir hulle met my hele hart, al voel ek partykeer uit my eie plek uitgeboer.

Ons lewe is so lekker rustig en kleindorps, dat winkels en verkeer ons gou ongemaklik maak. Groot winkelsentrums maak my fisiek naar, van al die vreemde energieë in my aura. ‘n Besoek aan Gauteng maak my deesdae paniekbevange, al het ek Pretoria en Johannesburg se kortpaaie almal geken en platgery.

So was die besoek aan Hermanus en die supermark vandag amper te veel vir ons, en MaanMan reken toe as ons gaan lunch by ‘n plek buite die middedorp, sal dit stiller wees, en nie een van ons twee is toe lus vir die spul seuns wat loop en slinger in die strate nie. Gedagtig ook aan ‘n vriendin se waarskuwing vanoggend oor die “gesuipte matrieks” is ons dorp-uit, maar waar ons nog oor die see kon sit en kyk hoe wild slaan die skuim teen die rotse.

En waarin loop ons ons vas? In twee láng tafels vol matrieks. Ons gaan sit toe maar aan die verste punt weg van hulle. Neffens ‘n vrolike groepie van ses ‘volwassenes’. Foutjie. Groot foutjie. Want binne ‘n ommesientjie het die paartie aangegroei, en blyk toe ‘n verjaarsdagviering te wees. ‘n Surprise paartie. Kort-kort het daar gilletjies gekom van Oh-mi-Ghoood.. What are you doeehing here!!! En die proppe het geklap en die drank het gevloei en die rook het getrek en die gilletjies het al harder geword en hoe meer hoe harder en ‘n glas het gebreek en hulle vieslike hond het aan my kom lek en dit was absoluut geen plesier om naby hulle te sit nie. 40-Somethings wat hulle soos hooligans gedra. Locals.

En die matrieks? Sit ewe stemmig en eet hulle sushi. Nie soveel as ‘n squeak uit die blombekkies nie, die meisies drink Appletizer en hier en daar het een ‘n bier gewaag. Ordentlike kinders.

Nee. Hulle is nie almal so nie… (Met apologie aan Jeanne Goosen)