Tags

, , , , ,

Het jy al ooit om elke hoek en draai in iets snaaks vasgeloop? Eintlik iets heel doodgewoon, maar op ‘n plek wat jy dit nie sou verwag nie. En dan so snaakse draai op jou maag gekry, omdat jy weet dat dit vir jou ‘n Boodskap van Bo is, en jy moet dit ontsyfer?

Veertjies is seker een van die goed wat meeste mense verbind met ‘n boodskap. Ek kry veertjies as bevestiging van my gedagtes. Hoe suiwerder die gedagte, hoe fyner en witter die veertjie, en hoe vreemder die plek waar ek hom kry. ‘n Sagte gryserige veertjie is ‘n vermaning, en bewaar almal om my die dag as ek ‘n swartetjie kry… Dan loop ek met donker gedagtes in my kop.

MaanMan is nogal bekend onder ons vriende as die man wat die Earbuds kry. Oral waar hy loop, is hulle voor sy voete. Stop ons by Mooiberge om aarbeie te koop, dan lê enetjie voor sy kardeur. Piekniekplekke, onder ‘n boom waar ons op ‘n afgeleë pad parkeer, op pad biblioteek toe, nou die dag glads op die vloer in ‘n klerewinkel, waar hy onwillig saam met my in is. In elke dorp waar ons kom wag daar enetjie voor sy voete. Gaan klouter ons hier onder op die rotse langs die see, kry hy een waar angels fear to tread. ‘n Besonder snaakse plek onlangs was agter die bure se braaiplek (vakansiehuis, geen siel kom daar nie), toe hy ons blinde kat uit hulle boom moes help. Hierdie nommertjie het langs die R43 gewag, mooi op die plek waar hy met sy fiets gestop het vir ‘n sluk water. Dit was so snaaks, dat hy my in die kar gelaai het om te gaan wys. Ek moes dit eenvoudig op film verewig. Wat? Hoe? Hoekom? Hy kry net nie die antwoord nie.

En dan die snaakste een. Bloed. Daar het ‘n paar keer ‘n druppel bloed verskyn waar ek besig was. Eenmaal teen die wit muur voor my oë, waar ek staan en stryk. ‘n Paar maal op ons (wit) teëls. Twee maal spontaan op my vinger (waar geen mes of naald naby was nie, eenmaal op my been terwyl ons in die kar gery het, en een keer op hierdie einste sleutelbord waarop ek sit en tik. Dit verskyn eenvoudig op ‘n plek waar ek besig is. ‘n Groot druppel taai rooi bloed, wat dan bruinerig word na ‘n rukkie. En nee, ek kneus nie maklik nie, ek bloei nie maklik nie en ek drink nie bloedverdunners nie. In fact, die Bloeddienste wil nie eers my bloed hê nie, ek mors glo hulle equipment omdat my bloed stadig loop en die sakkie nie volkom nie. Ek was nogal uitgefreak daaroor, en het Opgevra Boontoe, en die antwoord was bloot: Lewensbloed. Nee toemaar, ek weet ook nie. Dit het darem lanklaas gebeur.

My nuutste een is darem makliker en niks grillerig nie. Rafeltjies, in ‘n sekere vorm gedraai. Pragtige pastelkleure rafeltjies. In boeke. Op die mens se rug wat voor my stap, op ‘n restaurant se tafeldoek, oral kry ek mooi sagte rafeltjies, met so ogie en ‘n spiraal gedraai. Daar was darem nog net een kwaai gekoekte swarte…

Sylvia Browne het ‘n verklaring vir Synchronicities, waar besonder betekenisvolle toevallighede gebeur. Sy reken dit is A secret wink with God, om te bevestig dat jy inderdaad op die regte tyd op die regte plek is.

In Phenomenon sê sy ook: So pause to say thank you for your coincidences, large and small. The’re all snapshots of your immortality, and confirmation that you and your chart are in perfect synch.

Het jy al so iets ervaar?

Enige verklarings welkom…