Tags

, , ,

Het jy al op iemand afgekom wat kafoefel op ‘n snaakse plek?

Ons het vandag in die Palmietrivier onder hierdie brug gaan swem, so ent op in die rivier is ‘n natuurlike borrelbad – MAGIC is nie die woord nie! Die borrelbad is privaat – dis met groot klippe omring. By die brug klouter jy met so mooi paadjie af tot op die klippe, maar dan swem jy rivier-op vir seker so 50 m, die water vloei stil genoeg daar, en daar is klippe tussenin waar jy kan rus. Dis seker net so 50 m tot by die ‘borrelbad’, maar dit  het gevoel soos die Midmar myl stroomop!

Dit laat my toe weer dink aan ‘n vorige keer wat ons daar gaan swem het. So ent op, kon ons hoor daar is reeds mense, en ‘n meisie het so lekker gegiggel. Hoe nader ons gekom het, hoe duideliker het die aard van die gegiggelry geword! Ons het lekker gelag, terwyl ons aan ‘n klip hang, om die kafoefelende couple genoeg kans te gee, dit moes vir hulle hengse spesiaal gewees het. Toe die geluide begin aandui dat hulle weer mense kan aankyk, het ons al hoe harder begin praat om hulle te waarsku ons is onderweg. Dis darem wonderlik om jonk en verlief te wees! Twee oulike kinders, hulle het bietjie gesels soos ons by mekaar verby is. So twee jaar getroud, die twee. En ek dink sy het geweet ons weet…

Ja, OK, ons piekniek maar op die klippe en sukkel die steiltes uit, en die jonges kafoefel. Ons het immers ons beurt gehad…

Hierdie foto is nie vandag geneem nie, maar die water het net so gelyk. Dalk bruiner, meer die tipiese amber bergwater kleur.

Daar is kinders wat van hierdie brug afspring, my hart wil natuurlik gaan staan!

En ja. Ons besef inderdaad hoe bevoorreg ons is. Ons het in daardie borrelbad gesit en Dankie gesê vir die voorreg om in hierdie wonderlike omgewing te kan woon.