Tags

, , , , ,

Vandag het Xena iets gesê wat my laat besef het ons ken mekaar nie goed genoeg nie. “Yin en Yang en nou is ek seker ‘n satanis.”

Xena, so lyk my lewe. Hier is ‘n paar flitsies uit ‘n tipiese dag vir die MaanMense.

Eerstens oordink ek my drome, en kyk na die notas wat ek in die nag in die donker agter in die boonste boek op my bedkassie gemaak het, terwyl ek my tee drink wat MaanMan gebring het. (Daar staan gekrabbel – Mense in hysbakke)

 

 

Daarna is dit tyd om die kikoi wat ek om my lyf draai as ek gaan swem, van my rekenaarskerm af te haal en gou epos, blogs en Faceboek te kyk.

*Ignoreer MaanMan se vraag of ek nog nie aangetrek is nie*

Besluit dan om huweliksomnin te vermy, om te gaan stort… Daarna is dit tyd vir MaanMan se lekker gebroude koffie – ek op my rooi leerbank, en hy op sy denimbank, en dit kan lei tot ure-lange gesprekke oor die lewe, die dood en alles tussenin wat lei na die lewe en die dood.  Oor Yin en oor Yang.

 

Dan is dit tyd vir voete natmaak en seëninge tel…

   

Ons doen al ons huiswerk, instandhouding, die bedryf en bemarking van ons gastehuis (insluitend was en styk van beddegoed) self. Asof die kappery en plaveisel langsaan nie genoeg is nie, het die veldbrande van die afgelope weke alles met ‘n stof/roet/as lagie bedek.

Op sulke dae bestuur MaanMan en ek elkeen sy eie stofsuier, hy onder, en ek bo. Alles wat ons besit word aanhoudend met ‘n nat lappie afgevee, en goed soos my klippies word afgewas en blinkgevryf terug gepak. Een bak Yin, een bak Yang. (Lees jy Xena?)

Om te werk maak mens moeg en dors, en ons het vitamines en minerale nodig. Hierdie is sap gemaak van wortels, appels, pynappel, suurlemoen en gemmer.

Daar is nog so baie wat ek kan wys, die stapels boeke wat rondlê in afwagting op ‘n totale herorganisasie, die pakke CD’s waarvoor daar nie plek in die ordelike rakke is nie, die ure en ure se werk wat ek elke dag doen aan Boekemakranka, maar ek sal volstaan by hierdie fototjie van wanordelikheid. Dit is hoe ons huis normaalweg nié lyk nie.

En dit liewe bloggers, is net so ‘n paar flitsies uit die lewe van die MaanMense se normale dag.

‘n Paar tree in MaanKind se pienk seeplakkies… Dis nou as ons nie afvat en bietjie rits nie…

En nou is dit Xena se beurt. (Jy wil mos!)