Tags

As kind het ons hierdie liedjie gesing, van Kitty daar ver oor die see, sonder om regtig te dink hoe dit moet voel om in ander lande te wees. In die jare 60, was dit bitter ver verwyderd van ons ‘gewone’ mense se lewenservaring. Ek kan nie onthou van ‘n enkele persoon wat ek geken het as kind, wat oorsee was nie.

Ek onthou hoe ek in 1973 so opgewonde was, ‘n vriendin se ouma in Holland het  gesê sy moet ‘n vriendin saambring en kom kuier. Nou as 16-jarige was ek so wêreldwys soos die plaasmuis wat ek was, en moes ek my ouers oortuig om toestemming te gee. Hulle wou nie kopgee nie, maar toe raak die vriendin swanger en trou toe vinnig, en word al ons plannetjies verydel.

Nietemin het dit die wete in my laat vassit van, ééndag gaan ek nog oorsee…

Ons eerste oorsese reis was na Israel en Egipte, danksy ‘n kind in Israel. Daarna het die reisgogga gebyt, en daardie reiskiem bly kriewel in my are. Ek hoef regtig nie luuks te lewe of ‘n mooi kar te ry nie, maar as ek op ‘n vliegtuig kan klim, is ek bereid om baie ander dinge op te offer.

Nou het die tyd weer aangebreek! Hede nou oor ‘n week, trek die vliegtuig met sy stylvolle kameel/rooi waardinne iewers oor Afrika. Die huisoppassers arriveer Maandag, die lysies is gemaak, alles is ongeveer reg vir ons trip, behalwe die regte grootte ziploc vir die toiletries wat mos nou apart deur die scanners gaan. Kan mens nou stress oor die verkeerde grootte ziploc?

Hoekom het ek so kol op my maag soos ‘n kind wat voor die skoolhoof moet gaan verduidelik? Daardie immigrasiebeamptes is nooit so intimiderend soos wat ek my altyd voorstel nie, maar nietemin.

As jy skielik een Subscriber minder het, dis ek. Ek moet noodwendig hierdie maand bietjie afskaal met e-pos en notifications, omdat die data skielik bitter duur word sodra jou roaming inskop. Ek kom teken weer in einde Mei. Watter raad het julle nog vir my oor die gebruik van ‘n BlackBerry oorsee?

Vliegkaartjies en paspoorte √
$$$$$$ √
Ekstra batterye √
Ekstra geheuekaart √
Kamera, Kabels en Kindle √
Batterylaaier √
Tandeborsel en -pasta √

Die res maak nie saak nie! Soos een vriendin sê, vir die vlug vat jy net wet wipes, kougom en ‘n skoon pentie. O van skoon penties gepraat, ons reis met al ons oudste onderklere. Ons koop vooraf nuwes, en reis dan met die oues, en gooi hulle langs die pad weg. Geen wonder die laaste keer wat my rooi tas oopgebreek was, het hulle niks gesteel nie. Imagine, tot die diewe trek hulle neuse vir my klere op… Ek moet bieg, ek het net so effens verontwaardig gevoel…

Geweeg en te lig bevind.

Hoogtepunte van ons reis: Eerstens om die kinders te sien! Hulle woon in San Francisco. Dan gaan ons op ‘n roadtrip, van amper 2000 myl, wat insluit:

  • Fresno Underground Gardens
  • Yosemite National Park
  • Hoover Dam
  • Las Vegas (Ek hoor daar is ‘n uitstalling van die Titanic se artefakte in die Luxor hotel in Las Vegas. Ons bly 3 nagte in die Paris en kan die skoentjies en horlosies en stukke skip gaan kyk! How cool is that?
  • Grand Canyon
  • San Diego
  • Los Angeles
  • Alcatraz
  • Napa Valley