Tags

Britte het stywe bolippe
Amerikaners is luidrugtig
Afrikaanse mans dra two-tone hempde
Grieke is olierig en Italianers knyp meisies se boude
Almal in Orania is agterlik
Mormone is veelwywers
In Suid-Afrika loop leeus in die strate

Nee, natuurlik is niks van bogenoemde waar nie! Waar kom ons tog aan persepsies en veralgemenings wat so maklik rondvertel word asof dit waar is? Dis ‘n ding wat ek oral sien waar ek kom, ons het verkeerde persepsies van mense in ander lande en van ander kulture, en hulle van ons.

Om te reis is ons passie, en ons sal afskaal op ander dinge, maar ons probeer soveel moontlik reis, in Suid-Afrika en oorsee. Dis vir my heerlik om meer te wete te kom van ander kulture. So het ek twee groot goeters op my lysie afgetiek hierdie jaar, om meer te wete te kom van die LDS-geloof (Mormone), en Orania te besoek. Ons het die voorreg gehad om by gesin te eet in Salt Lake City in Utah, waar die groot Mormoonse Tempel ook is. Sagte, vriendelike mense deurgaans. Een ma, een vrou. Besonder gasvry daarby!

Hoe lyk dit in Orania, en hoe lyk die mense, wou meer as een mens weet toe hulle hoor ons was daar, só asof hulle nou anders sou lyk as op enige ander plek.

My indrukke was baie neutraal. Ons het oorgeslaap in ‘n baie netjiese chalet, heel bekostigbaar boonop. Die uitsig was pragtig, en die ete by die restaurant heerlik. (Strate beter as enige iets anders wat ons verder langs die N1 te ete kon kry.)

Die mense waarmee ons in winkels en by die restaurant en akkommodasie te doen gekry het, was vriendelik en behulpsaam. Hulle kon net sowel in enige dorp gewees het. Daar is niks agterlik/armsalig soos dit dikwels uitgebeeld word nie. Nie waar ons was nie.

Die dorp en huise self? Vergeleke met wat? Vergeleke met ons mooi kusdorp, steek Orania maar af. Vergeleke met ál die ander dorpe in Noord-Wes en die Noord-Kaap waardeur ons gery het, lyk dit besonder goed. Die strate is netjies, die tuine versorg, maar nie móói nie. Iets het my gepla, maar ek kon nie my vinger daarop lê nie. MaanMan het dit perfek opgesom: Ek sien te min lewe. Daar is niemand in die tuine of in die strate nie. (Miskien is ons maar gewoond aan Kleinmond?)

Regsheid word nêrens genoem nie, maar oral geïmpliseer, in name van besighede, en alles is getooi in oranje, wit en blou. Om die waarheid te sê, ek het min ander kleur gesien. Die plek is valerig. Te veel van dieselfde ding.

But I see your true colours shining through
I see your true colors, that’s why I love you
So don’t be afraid, to let them show
Your true colours, true colours
(Phil Collins)

Ons hou van reis, van verskeidenheid van kulture, kosse en smake. Ek sou gek word as ek die hele tyd moet woon en werk op ‘n plek waar almal eenders oor dinge dink en voel. Hoewel dit seker ook weer ‘n aanname is, dat mense in Orania dieselfde oor dinge voel.

“The world is a book and those who do not travel read only one page.”
― Augustine of Hippo