Maak vir die kinders swieties, dis gesond! Regtig! Nou nie álle swieties nie nè, net die soort soos hierdies wat ek maak. En as jy soet is, kan jy ook kry.

Vergeet van die duur pakkie Jerusalem Toffees by die ‘gesondheidsafdeling’ van supermarkte, dis bloot gedroogde dadels. Sny dadels in drie, terwyl die oond warm word tot 150 grade. Plaas stukkies op waspapier ‘n entjie uit mekaar uit. Na 20 minute ruik die hele huis heerlik na molasses, skakel die oond af en laat dit in die oond afkoel. (Haal twee stukkies uit en laat vinnig in vrieskas afkoel ‘om te proe of dit reg is’.) Hou in ‘n bottel of lugdigte Tupperbak. Dit proe bietjie soos die oorspronklike geur Wilsontoffies.

Vir die van julle wat hou van salted caramel. Maak klapperolie effens sag, meng met dieselfde hoeveelheid grondboontjiebotter. Versoet met xylitol. Laat stol en sny in blokkies. Vries. Eet uit die vrieskas, dit verys glad nie, dit smaak glad nie na enige van die bestanddele nie, dis bloot heerlike romerige salted karamel en proe verbasend baie na fudge.

Skil piesangs en sny in twee. Vries. Dit verkleur glad nie. Sny in ringetjies en eet dadelik. (Dis lekkerder as wat dit klink! Dit proe soos piesangroomys.)

Vries yoghurt in yslollievormpies. As jy vir jou kinders versoete vrugteyoghurt gee, vries dit net so. Vir die gesonder opsie, gebruik dubbeldik griekse yoghurt en blits dit met bessies en bietjie Xylitol.

Maak roomys van een blik yskoue Ideal-melk wat jy styf klits, twee gevriesde piesangs wat jy in stukkies sny en fynblits met bietjie van die Ideal-melk, bietjie Xylitol en kakao. (Vir grootmensroomys gooi jy 50 ml Amarula by). Die dae wat jy die blik geklopte Ideal-melk met ‘n blik kondensmelk en ‘n houertjie room gemeng en gevries het, is helaas verby. Soveel suiker is ongesond.

Maak seed bars. Rooster eers al die sade wat jy het in ‘n bietjie klapperolie tot ligbruin. Oppas net, dit brand maklik, roer dit heeltyd. Golden flax seed, sesamesaad, sonneblomsaad, pampoenpitte en hierdie groot, plat klapperskyfies. Jy kan ook amandel slivers bysit. Meng dan so drie dele klapperolie, een deel neutbotter (grondboontjiebotter sal ook doen) met die sade. Meng dan bietjie Xylitol en kakaopoeier deur na snaak, en gooi alles in plat pan. Laat stol in die yskas, sny in blokkies en hou in die vrieskas.

Maak smoothies van yoghurt, gevriesde piesangs wat in skyfies gesny is en enige bessies en/of vars vrugte en ‘n klein bietjie sap.

Mens raak so gewoond dat hierdie swieties is, dat dit al vir my na kroek begin klink. Eintlik is dit bietjie kroek, want ons eet sover moontlik geen verwerkte kos, kunsmatige kleur- of geurmiddels nie.