Die geheim van die elikser vir ewige lewe? Die geheim van sukses? Die geheim van ‘n gelukkige huwelik? Nee! ‘n Geheim oor myself.

Wat is ‘n geheim? Dis iets wat net jy of enkeles van weet, maar vir ander verborge gehou word. Indien jy iets van iemand anders hoor, of oorvertel, is dit mos eintlik glad nie ‘n meer ‘n geheim nie. Vir my is die beste geheim iets wat nét ek weet. As dit iets van iemand anders is, het dit nie meer vir my daardie vreemde bekoring nie, want ek én die betrokke persoon weet immers daarvan. Daarom is my beste geheime dit wat nét ek van myself weet. Alles anders kies ek om te deel. Of nie.

Dit is seker maar my rebelse hart. Soms doen ek ‘n geheime welwillende gebaar vir iemand, waarvan hulle self niks weet nie. (Soos om my kind wat ver is se gunstelingdis vir haar te maak, al weet sy nie.) Net so is hierdie my geheime rebellie teen situasies waarmee ek ontevrede of ongelukkig is. Dink ek. Ek sal ‘hulle’ spite en iets nie doen, wat my eintlik heimlik baie plesier gegee het toe die situasie my nog gepas het. Of iets heimlik voel, soos die behoefte om ‘n geliefde uit wie se mond seermaakwoorde gekom het, se tandeborsel te gebruik om onder die toilet se ring skoon te skrop.

Voordat ek saam met jou, die leser, dink dat hierdie totaal vergesog is om sulke ‘geheime’ emosies te hê, is dit nie maar ons diepste menswees nie? Om ál ons gedagtes, behoeftes en veral intensies, die goed en die donker, die Ballade van die bose, te vier.

Ballade van die bose

Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien
en ken jy jou?
Wanneer jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos ‘n vrou aan jou hand.
*
Die veles meen
hulle ken my gesig,
maar ek skuil te glansryk,
te na aan die lig,
en as hul wil waarsku
en wysheid gee,
dan praat ek reeds
in die woordklank mee;

en die snelles vlug,
waarheen? vir wie?
ek is nie skoon
of aaklig nie,
en waar hulle vlug,
daar dra hul my mee
in die grys-wit groewe
van die senuwee.

Ek is ín jou
gevleg, gerank
soos ‘n wortel in
in die donker bank,
en van voor die daeraad
se blank begin
straal ek by albei
jou oë in.

Weet jy genoeg:
wat God vereen het,
hoort saamgevoeg?
*
Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap in jou spoor
soos ‘n goeie hond.

Toe God die aarde,
die silwer bal,
in vreugde en spel
uit sy hand laat val,
was ek die baaierd
waarin dit weeg,
die vormlose,
en woes en leeg.

Toe ‘n stil vroeë water
– voor vis of net –
tot die eerste wit kiem
geëtter het,
was ek die donker
wat onder skuil:
die koue grond en
swart klip van die kuil.

Ek was die skaduwee
van Gods gang:
ál wat Hy verlaat het,
het ek gevang;
en nou dat jy groei
om die baasskap te hê,
is ek die rooi naelstring
waaraan jy lê.

Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap jou spoor
soos ‘n goeie hond.

Wil die kennis nou kom:
ek is die grond
al is jy die blom?
*
Al is julle helder
en slank en vry
moenie dink dat julle
my dood sal kry,
of my strenge gang
op my baan sal stoor:
al is ek die hond,
ek hou die spoor,
ek blaf teen elke
horison
en as Gods Gees
voor die suiwer son
tot skoner gestalte
as julle is, skry,
sal ek weer helder wees,
slank en vry.

O waar sal jy gaan
en met watter skip?
die aarde is branding
en oral is klip,
of as jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos ‘n vrou aan jou hand.

Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien,
en ken jy jou?

(NP van Wyk Louw)