Die vreemde gedagte dat mens nie oor Seks, Godsdiens en Politiek praat nie, is soveel keer herhaal, dat dit op ‘n snaakse manier in ons geslag se koppe bly vassteek het as deugdelik, as jy jou sou weerhou om oor hierdie dinge te praat.

Waarom sou dit wees? Omdat dit altyd ‘n koppestampery afgee? Omdat geen party regtig na die ander party luister nie? Omdat dit deel van die manswêreld was in ons ouers se tyd? Dan moet Geldsake seker ook by Landsake en Grootmenssake gevoeg word …

Niks is eintlik taboe nie. Waarom kan mens nie oor die dinge praat nie? Hierdie is ook seker die rede waarom daar soveel probleme in verhoudings bestaan, mense praat nie oor hierdie jakkalsies nie, totdat die wingerd verniel is. Dan moet die skade herstel word, maar as die wingerd eers in geheel opgevreet is, is dit bykans onmoontlik om weer die wingerd tot sy eertydse glorie te herstel.

scan0009

Self was ek seker maar ‘n vreeslike swak Christen my lewe lank, want in my hart het ek al hierdie onuitgesproke vrae gehad. Enige poging tot vrae of gesprek het op niks uitgeloop. Ek het later niks bevraagteken nie, dit was hoe dit was, en dan was daar die groot dag in die kerk. Jou Aflegging van Belydenis.  Jou boerematriek. Of jy word Aangeneem. En dan Voorgestel. Dan kry jy ‘n Voorstelrok. Dit was nogal ‘n spesiale dag. Maar in my hart was dit maar die rok en die hoed en die skoene, wat so mooi by die handsak moes pas. Ek speel nie meer footsie met seuns onder die kerkbanke nie, want dit is ongeveer al wat ek uit my katkisasiedae onthou. Dit, en die klein rooi Heidelbergse Kategismus. Ons moes alles soos papegaaie leer. En Doppers dans nie. (Die volkspele en speletjiesaande by die JV tel nie.)

My kinders het vroeg-vroeg in die hoërskool begin weier om kategese by te woon. (Ek het met Katkisasie grootgeword) Dit was vir my aanvanklik baie erg, ek het immers met hulle doop belowe om hulle gelowig groot te maak.

Een van die dominees uit my jonggetroude lewe het in die middel tagtigs met my gesels. Ds Kaaiman Schutte was die eerste ou wat na my vertwyfelinge geluister het en tyd gemaak het om met my oor wyer denke te gesels, hy het vir my ‘n boek geleen oor die teosofie. Ongelukkig het hy uit my lewe verdwyn toe ek geskei en weg uit Dorandia is en die volgende dominee het net belangestel om my getroud te kry, sodat hy sy hande van hierdie sondige saamwoonverhouding kon was.

In Johannesburg het ek soms kerk toe gegaan, vinnig weggeglip van die kwekery af wat ons bedryf het, en oor die pad Meredale toe gery. Daar was ‘n lieflike dominee, Charl Iemand, met hom kon ek e-posse wissel oor sy preke.

In Kleinmond het ons net nooit by kerk uitgekom nie, hoewel ons in 2002 gewonder het of ons dalk (ter wille van die mense) moet aansluit, maar het besluit dis ‘n goeie tyd om ons eie oortuigings uit te leef en mense moet ons so leer ken. Die verskillende kerke hier doen wel goeie werk en ons ondersteun hulle projekte, maar dis al.

Deesdae is ons nie meer kerkgangers nie, maar ons lewe steeds volgens die riglyne van die moraliteit waarmee ons grootgeword het. Ons neem self verantwoordelikheid vir ons dade en verwag nie vergifnis van enige iemand behalwe van onsself vir gedagtes en dade wat nie strook met ons eie oortuigings nie. Ons lewe maak vir onsself sin in terme van die dinge waaroor ons lees en praat.

Gaandeweg het ek besef watse rol indoktrinasie speel en hoe kerk en religie staatmaak op die mens se vrese oor die lewe se uitdagings en ook die dood.

My uitkyk het geweldig verbreed met die koms van Facebook, toe ek kennis gemaak het met die mense wat ek leer ken het by toenterjare se KletsKerk (ek was net ‘n sluipleser daar, ek kon immers nie saam met daardie slim ouens praat nie). Danksy al die heidense ateïste met hulle kwaai uitsprake en ook ‘n klomp verloopte dominees, dienende dominees en emeritus-dominees; tesame met al my vriende in die sirituele groepe, het my vriendekring uitgebrei tot ‘n vlak van kwaliteit wat ek nog nie voorheen in my lewe gehad het nie. Daar waar jou menswees tel, waar ek nie voel ek word geoordeel in terme van wat ek glo/nie glo nie. Daardie “vriende” wat my laat weet het hulle kan ongelukkig nie meer vriende met my wees as ek so openlik is oor die feit dat ek nie ‘n Christen is nie, het my ‘n groot guns gedoen. Wat bewys dit? Dat die beeld wat jy voorhou vir hulle belangriker is as die mens wat jy is? As die skapies en die bokkies so geskei word, is ek dankbaar vir die geleentheid.

Hoe sê ‘n mens dankie? Vir jou ouers wat jou waardes geleer het wat steeds relevant is, vir elke mens van wie ek hierbo gepraat het?

“I have realized; it is during the times I am far outside my element that I experience myself the most. That I see and feel who I really am, the most! I think that’s what a comet is like, you see, a comet is born in the outer realms of the universe! But it’s only when it ventures too close to our sun or to other stars that it releases the blazing “tail” behind it and shoots brazen through the heavens! And meteors become sucked into our atmosphere before they burst like firecrackers and realize that they’re shooting stars! That’s why I enjoy taking myself out of my own element, my own comfort zone, and hurling myself out into the unknown. Because it’s during those scary moments, those unsure steps taken, that I am able to see that I’m like a comet hitting a new atmosphere: suddenly I illuminate magnificently and fire dusts begin to fall off of me! I discover a smile I didn’t know I had, I uncover a feeling that I didn’t know existed in me… I see myself. I’m a shooting star. A meteor shower. But I’m not going to die out. I guess I’m more like a comet then. I’m just going to keep on coming back.”
― C. JoyBell C.

(Wat begin het as ‘n kort stukkie oor die belangrikheid om oor dinge te praat, het ontaard in ‘n stuk wat heeltemal afgewyk het, soos wat ons lewenspaaie ook maar doen. Dankie dat jy tot hier gelees het.)