Sekere klein dingetjies bly mens mos lewenslank by. As kinders het ons gereeld my ma se foto-albums bekyk, versigtig om nie die kiekies te buig as ons hulle uit hulle swart hoekies haal om te kyk na wat agter op die foto geskryf is nie. Verbeel jou, Pa wat oor liefde vir Ma skryf! Een van die foto’s was vir my baie fassinerend. My pa het as jong man saam met sy ouers en ander familie, die ver reis see toe aangedurf. Daar het hulle ‘n walvisstasie in Durban besoek en die foto van die enorme dier met ‘n ketting om sy stert, was vir my altyd ‘n simbool van iets onbereikbaars. Ver.

Trisa glenmore crop

Ek kan nou sien dat die pensie en die appelwangetjies en die bolletjie binnebene nie te wyte is aan die ekstra 5 kg nie … en die plooiknieë niks met ouderdom te doen het nie…

Die see op sigself was ook van kleintyd af vir my alles waaroor ek gedroom het. Ek was ook een van die gelukkiges wat ‘n hele kwartaal by die see kon skoolgaan. Op nege was ek ‘n dapper dogtertjie en het ek dit baie opwindend gevind en nie eintlik huis toe verlang nie. Vir ‘n plattelandse kind uit die sestigs was die see ver en net vir ‘ryk’ kinders beskore. Die regering het ‘n wonderlike projek gehad daardie jare – Die Kinderstrand by Glenmore. Skole kon om die beurt hulle minderbevoorregte kinders nomineer, wat dan ‘n volle kwartaal in die koshuis gaan bly het, en daar skoolgegaan het.

Ons skool was so klein, almal van tien jaar en ouer kon toe gaan! My hart was aanvanklik aan flarde, want ek was nege, en die tienjariges was in ‘n laer standerd as ek en hulle kon gaan. Gelukkig is daar ‘n uitsondering gemaak vir my.

Ons het met die trein gery, en die Zoeloe-hutjies teen die grasgroen heuwels  was so anders as ons wêreld! Dis vreemd die dinge wat ek na meer as vyf dekades nog onthou van daardie kwartaal in 1965.

Ek het geleer wat is opregte spyt. Marita en Carolina wat na ‘n bittere rusie gedwing word om mekaar om verskoning te vra. Carolina, in trane met uitgestrekte hande: Marita, ek vra assebliéf om verskoning! Marita, dikbek en kop-onderstebo wat mompel: Ek vra verskoning

Deernis van ‘n maatjie het daar betekenis gekry. Susan het in opdrag van Carolina, ons kamerprefek, my panties vir my gewas omdat sy gedink het ek het begin ‘siek word’, soos die groot meisies dit genoem het (dit was toe net ‘n bloedvint op die boud). My ma het my vanaand eers vertel dat een van die kinders se ouers tydens die voorafvergadering die “huisouers”, gevra het om tog te let op die dogtertjies wat tydens die kwartaal gaan “groot word” (begin menstrueer).

Ek het ook geleer dat greed (of gesonde verstand?) soms vrugte afwerp! Met Pick-a-Box het ek die geld gekies toe dit 25c word (ons weeklikse sakgeld was immers maar 15c) Ek is geboe, want almal het die Box gekies, maar ek was baie in my skik met my 25c toe daar net ‘n ballon was in die box wat ek sou kry.

Ek het geleer dat ek nooit moeg sal word vir piesangs nie. Groot mandjies piesangs is elke dag vir ons afgedra strand toe,

Dit was die eerste keer wat ek wit margerien leer ken het. Dit was ook al wat ons gekry het om op ons brood te smeer. Groot was my skok toe ek by die huis kom en hoor dat wit margerien nou algemeen is. (My ma het dit darem met wortelsap gekleur sodat dit nie so sleg gelyk het nie.)

Dan het ek geleer van ‘n klein twak – Dawie Malan wat vermakerig vir my skree, Geel tanne soos ‘n armie donkie… Geel tanne soos ‘n armie donkie… Vir jare het ek toegelaat dat my tande se natuurlike off-white kleur my minderwaardig laat voel. Daaroor! Ek wonder of Dawie dit sou onthou? En waar hy nou is?

Tegniese vaardighede was ook deel van die kwartaal – Hoe om ‘n blikkie kondensmelk oop te kap teen die kamervenster se pennetjie, en dit dan meng met ‘n blikkie Milo. Sulke piepklein blikkies. Ek sidder om daaraan te dink dat die taai bruin stof-gemors so droog geword het, totdat die volgende blikkie daarteen oopgekap word…

Dan het ek ook altyd my oë oopgehou vir ‘n walvis, veral agter die haainette, ‘n walvis soos wat wat ek in my ma se fotoalbum gesien het.

En nou? Nou woon ek by die see, waar ek nog nooit gewoond geraak het aan die gevoel van die wye oseaan voor my en die sand onder my voete nie. En hierdie week het ek een van die see se reuse gesien, skaars 200m van ons huis af, ek het aan hom gevat en helaas ook geruik. ‘n Jong boggelrugwalvis het aan ons kus uitgespoel en swak selfie en al, is dit vir my ‘n groot voorreg om op een foto met die dier te verskyn.

20171213_071037

“My soul is full of longing
for the secret of the sea,
and the heart of the great ocean
sends a thrilling pulse through me.” 
― Henry Wadsworth Longfellow