Maar ek moet. Moet? Dalk nie, maar daar is ‘n groot verskil tussen moet, kan en wil. Wanneer twee partye verskil oor iets, oor ‘n keuse wat gemaak moet word, raak al die permutasies van moet, kan en wil met die verskillende partye en verskillende keuses nogal ingewikkkeld.

Hoe dikwels het jy nie al ‘n kleintjie hoor sê, ek WHUL nie? Meestal moet die arme kind hom maar onderwerp aan die gesagsfiguur se wil, dikwels ook vir sy eie beswil.

Keuses is nooit maklik nie, en as mens voor ‘n keuse te staan kom, is dit nie altyd ‘n Maklik-Moeilike keuse nie. Dikwels is dit Moeilik-Moeilik. Niemand kan die gevolge van ‘n keuse voorsien nie, en dikwels is die gevolge van ‘n keuse hartverskeurend, al was dit op daardie moment die beste keuse onder die omstandighede. Ons moet net altyd bly glo dat dit tóé die regte keuse was, en dat ‘n ander keuse nie noodwendig beter gevolge sou hê nie. Ons is mos baie goed daarmee om illusies te leef. Ek hoor onlangs hoe ‘n middeljarige geskeide man praat van sy skoolliefde met die mooi lyf, en hy dink daaraan om haar op te soek. Uhm, ja? Sy is dalk nou oud en verrinneweer, vol skete; of dalk nie. Die punt is ons weet nie wat die uitkoms van die opsie wat ons nie neem nie, sou wees nie. Sekerlik sou dit sy eie uitdagings hê.

Alle gegewe situasies is eintlik neutraal, dit hang af van jou eie perspektief, hoe jy na die situasie kyk, aan watter kant jy staan.

Ego. Trots. Koppigheid. Ego is baie mense se ondergang.  Tog te dikwels WHUL ons iets, ten spyte van alle aanduidings dat dit nie die beste/regte ding is om te doen onder die omstandighede nie. Wie wen in enige konfliksituasie?  Die werklike verloorder is die een wat nie kan erken hy het verloor nie. En is dit noodwendig ‘n verlies?

Verlies het baie vorme – Die verlies van ‘n ongebore baba. Die verlies van vertroue. Die verlies van onskuld. Die verlies van lewens. Verlies is so ‘n deel van ons lewe, wat geïntensifiseer word in moeilike en oorlogstye. Die verwerking van verlies  is wat ons laat groei, wat van ons mense maak wat uiteindelik vorentoe die beste keuses maak.

So dikwels ontneem ons onsself ook van iets omdat ons dink dit is die regte ding om te doen. Ons is bang, want keuses is finaal. Sou ‘n mens iets wat deur ‘n keuse van jou ontneem word, ooit weer kan terugkry as dinge anders verloop?

Dan is dit soms bloot makliker om nie ‘n keuse te maak nie en te wag vir die natuurlike vloei van die lewe.

But if you love and must needs have desires, let these be your desires: To melt and be like a running brook that sings its melody to the night. To know the pain of too much tenderness. To be wounded by your own understanding of love; And to bleed willingly and joyfully.
― Kahlil Gibran, The Prophet

Advertisements