Om te bid vir iemand, sonder dat hy vra, is eintlik vreeslik arrogant. Dink bietjie, daar is bv ‘n vrou in ‘n vreeslike abusive huwelik, maar sy het al die jare stilgebly, ter wille van haar kinders en haar man se posisie in die gemeenskap en die kerk. Nou is daar ‘n kans dat sy ‘n nuwe lewe kan begin, maar mense bid vir haar, dat haar huwelik gered kan word. Of die man met terminale kanker. Hy wil nie chemo deurgaan nie, hy is moeg gesukkel met werk en geld en wens dat alles net oor en verby kan wees. Sy gesin wens hom nie lyding toe nie, maar welmenende mense bid vir sy herstel. Dalk is die dood op verskillende maniere vir daardie gesin ‘n uitkoms?

Op die oomblik word daar ‘n sirkus gemaak van Angus Buchan so onsinnige uitsprake oor die Kapenaars se sondigheid, waar hy eintlik die aap van sy eie toertjie is, so ek slaan eerder my eie drom se ritme, dink wat beteken bid vir my.

Bid is vir my verskriklik persoonlik, dis om stil te word en met alles in my te vra: For the Highest Good of all. Wie is ek om te aanvaar wat in die groter prentjie goed is vir iemand anders? Daarom vra ek nooit vir iets spesifiek nie. As ek glo in die krag van gebed, beteken dit ek wil ‘n situasie manipuleer en beheer. Indien iemand anders ongevraag vir my wil bid, hoe op aarde weet hulle wat is die beste vir my, vir my persoonlike ontwikkeling? Miskien het ons juis ‘n situasie nodig, om daaruit te groei. Om ongevraagd te bid vir ‘n oënskynlik “beter” of “regte” uitkoms, ontneem ons dalk onsself of ‘n ander, die geleentheid om te groei, of om iets te oorkom of te ervaar wat nodig is vir sy ontwikkeling as mens.

“Hulle het my abuse met hulle heiligheid.” Hierdie woorde het my hard getref verlede jaar, komende van ‘n vriend wat toe pas sy vrou verloor het. Ek besef hoe absoluut magteloos ons is om werklik begrip te hê vir mekaar in tye van trauma. Ons kan mooi woorde praat, hande vashou, kos vat, help aanry, maar ek kan my glad nie indink dat enige iets wat ek in so ‘n tyd sê, van waarde vir daardie persoon kan wees wat pas ‘n geliefde verloor het nie. Op Facebook sien ek dikwels (hopelik) goedbedoelde trooswoorde, maar van buite gekyk, ervaar ek dit ook dikwels dat mense van die geleentheid gebruik maak om hulle eie oortuigings op ‘n getraumatiseerde mens af te dwing, dat dit meer om hulleself gaan as oor die een wat trauma ervaar.

Mens sien so dikwels: “Ek bid vir jou”, wat ek bietjie as betreding van privaatheid ervaar. Wie sê die persoon wil noodwendig die uitkoms hê waarvoor die ander persoon bid? As mens nou redeneer dat jy nie ander se lewens wil manipuleer nie, maak dit dan eintlik geen sin om wel te bid vir ander, tensy daarvoor gevra word nie. (Dis te sê as jy wel glo dat jou gebed krag het.)

Wanneer iemand my vra, bid vir my, doen ek die beste wat ek kan, met groot liefde. My beste bid doen ek ook met my voete in die see, verkieslik waar ek alleen in die see is, vir kilometers ver. Soms teken ek ‘n prentjie in die sand by, of dink bloot aan die persoon. Dan voel ek een met die Universe en vra: For the Highest Good of All.

DSC07173

For what is prayer but the expansion of yourself into the living ether?
And if it is for your comfort to pour your darkness into space, it is also for your delight to pour forth the dawning of your heart
– Kahlil Gibran

“There’s a fine line between support and stalking and let’s all stay on the right side of that.”
― Joss Whedon