Wat goed genoeg is vir Einstein en my kleinkind, is goed genoeg vir my.

Wat is dit om ‘n mens te wees? Vel, hare, tande, denke en drome? My kleindogter het op ses ‘n goeie idee gehad:

Ouma, ons is eintlik almal sterre, ons droom maar net ons is mense.
Sowaar?
Jahaaa. En ons is álmal boeties en sussies. En daar is net drie goed wat ons moet doen. Ons moet respek hê vir mekaar, ons moet goed wees vir mekaar, en mekaar help.
Regtig?
Ja, Ouma. Dis die waarheid. Behalwe dat daar nie regtig iets soos die waarheid is nie.
Ja?
En as ons doodgaan, gaan ons na ‘n plek bokant die blou van die lug. Die mense wat lewe, bly onder die blou, en as jy doodgaan, gaan jy na bokant die blou van die lug. Dis ‘n baie groot plek, en daar is niks lande soos Japan en so nie, net een groot plek. En jy gaan almal ken wat jou familie hier was, maar jy gaan ook nuwe familie ontmoet. En jy gaan nie eers ‘n tassie klere of speelgoed saamvat nie, jy gaan niks daar doen nie. Jy gaan ook nie eers eet nie.
Nou waar leer jy hierdie goed?
Ek weet dit net, Ouma. Liewe Jesus het dit self vir my gesê. Ek het vandag gesit en dink en gewonder wat dit is om ‘n mens te wees, toe sê ‘n stem vir my van die sterre. En dit is Liewe Jesus wat dit vir my gesê het.

Het Ouma nog vrae? As ek nog vrae het, mag ek weer vra, dit het Liewe Jesus gesê.
En o ja, Ouma. As jy nou dink jy is ‘n zebra, gaan jy daar ‘n zebra wees.
En daar kom ‘n nuwe wêreld ook. As al die mense wat nou op die aarde is eers daar bokant die blou van die lug is, gaan daar ‘n nuwe wêreld wees. En die Waarheid kán bestaan. Maar net hier waar ons nou lewe. Waar almal bymekaar is, is daar net Een Waarheid en dis dat ons almal sterre is.

En toe was die oomblik verby, en sy het uit die bad gespring en gesê, laaste uit was die bad…

Die volgende dag het sy weer so uit die bloute gesê: Het Ouma geweet, diewe en inbrekers is eintlik ook ons broers. Ons moet respek vir hulle ook hê. (Geen emosie terwyl sy praat nie.) En het Ouma geweet, niks is eintlik Reg of Verkeerd nie. En Ouma, nie almal moet weet van hierdie goed nie. Min mense weet eintlik daarvan.

Gits, ja.

‘n Tyd gelede het ek onder andere hierdie geskryf:

Ek glo aan ‘n Universele Bewussyn waarvan ons almal klein fragmentjies is. (Ander mense noem dit God, maar die woord “God” het vir my te veel konnotasies van ‘n messias-figuur.)

Ek glo aan reïnkarnasie van hierdie fragmente. Dit geld vir die stukkie bewustheid in my (my siel), my DNA wat voortleef in die hare wat in my stort se gaatjie wegspoel en die grondstowwe van my liggaam wat al dermiljoene jaar oud is. Deeltjies van wie ek nou is, was dalk al ‘n koppie tee in California, ‘n boeliebeefblikkie in die ABO en ‘n spiespunt van ‘n grotbewoner. Of dalk die buitekant van ‘n koringkorrel in Egipte?

what_is_consciousness_1200x627Die stukkie bewustheid wat my ek, myself maak; met my eie persoonlikheid, giere en geite is vir my nie anders as die water en grondstowwe waaruit my lyf bestaan nie. Dit klink vir my logies dat dit ook sal hersirkuleer, net soos die water, yster, kollageen, koolstof en ander minerale en spoorelemente in my lyf. Vandaar dalk die visies wat ek al gekry het van wie ek al voorheen was en waar en hoe ek geleef het. Sulke visies was amper soos ‘n droom op steroïde, as jy die prentjie eenmaal in jou kop gesien het, is dit onmoontlik om uit te wis.

(Lees volledige stuk HIER)

Vanoggend kom ek te wete van ‘n brief van Albert Einstein, een van ‘n aantal briewe wat gewissel het tussen hom en ene mnr Marcus wat diep nagedink het oor die betekenis van die lewe.

Einstein

February 12, 1950

Dear Mr. Marcus:

A human being is a part of the whole, called by us “Universe”, a part limited in time and space. He experiences himself, his thoughts and feelings as something separated from the rest — a kind of optical delusion of his consciousness. The striving to free oneself from this delusion is the one issue of true religion. Not to nourish the delusion but to try to overcome it is the way to reach the attainable measure of peace of mind.

With my best wishes,
sincerely yours,

Albert Einstein.

Mr. Robert S.Marcus
World Jewish Congress
1834 Broadway
New York 23,N.Y.

So iewers tussen Einstein en ‘n sesjarige, probeer ek maar die drade van my denke losrafel.