stoof

Ons was ‘n groot gesin, en daarby het ons net een badkamer gehad as kinders. Met net ‘n bad. Tweede badkamers en storte vir gewone mense was mos ‘n nuwerwetse ding wat jy net in stede gekry het. Ons is geleer om te bad en klaar te bad, en voor jy uitkom, moes die bad silwerskoon wees vir die volgende kind. Toe ek heel klein was, moes ons boonop badwater met ‘n emmertjie indra. Water is op die koolstoof in groot potte warm gemaak vir bad, presies so een soos op die foto. Die koolstoof het ook so klein tenkie aan die kant gehad waaruit ek graag my badwater getap het, tot my ma se frustrasie, hoekom weet ek nie. Dit het nogal stadig uit die klein kraantjie geloop. Miskien het ek gemors, miskien het sy gesukkel om dit weer vol te maak, ek kan net onthou dat sy gefrustreerd was daaroor, maar my laat begaan het. Hoe op aarde my ma geslaag het om ons spannetjie so skoon te hou, weet ek wraggies nie. My ma was ‘n presiese vrou op alle gebiede. Die stoof is natuurlik ook silwerskoon gehou, en uit daardie oond het baksels en baksels beskuit en koekies gekom, ook gloot plat panne met my gunsteling, suurlemoen-meringue.

images.jpg

My ouma en oupa het by ons ingewoon, maar hulle het nooit-ooit gebad nie. Ek het soms my ouma gehelp, dan het sy in ‘n skottel gestaan, haar lyf skoongewas met waslap en seep en haar skoongespoel met water uit ‘n wit-en-groen lampetbeker, soortgelyk aan hierdie een. Ek kon nooit verstaan hoe sy nie kon bad nie, maar nou wonder ek of sy nie maar net gestort het op ‘n primitiewe manier nie?

Dis seker waarom ek nie kan nostalgies kan raak oor die goeie ou dae nie. Enige mens wat uit daardie era kom waar die destydse Evkom se drade nog nie die plase bereik het nie; wat moes sukkel met vierkantjies skeur vir die kleinhuisie, water moes aandra om te bad, wasgoed en skottelgoed te was, kersblakers skoon hou en lampglase skitterblink, besef die realiteit daarvan. Ek het eers toenemend met my eie bevoorregte lewe besef watter supervrou my ma moes wees om ons span so góéd groot te kry, met al hierdie ongerief.

Tog – baie van ons landgenote het nóú nog nie eers die gerief van so ‘n koolstoof of ‘n bad in die huis nie.

“There are a few moments in your life when you are truly and completely happy, and you remember to give thanks. Even as it happens you are nostalgic for the moment, you are tucking it away in your scrapbook.”
― David Benioff, When the Nines Roll Over and Other Stories