Sedert ek die video van Phosphorescent se Song for Zula die eerste keer gesien het, spook daardie ontstellende prentjie in my kop, hoe Zula sit en die ketting met groot inspanning met ‘n swaar klip kap en kap, totdat dit middeldeur gebreek is. Sy kap haar na vryheid, van ‘n los ketting wat net aan een voet vas is…

Screenshot-2018-6-6 Phosphorescent - Song For Zula - YouTube

So is ons dikwels vasgevang aan ons eie emosionele boeie, ons kap daaraan, soms kap ons los aan ‘n gewaande, selfopgelegde boei. Maar soms kom daar ‘n dag wat jy onverwags ‘n oomblik beleef waar jare se gedagtes, vrese, emosies net blootgelê word, en jy jouself verlos daarvan. Waar jy die boeie en kettings eenkant toe kan skop.

Ons onlangse reis na die suidelike state van Amerika, het op ‘n veemde manier eeue se emosionele gevangenisskap vrygelaat, met die verlies van ‘n geliefde armband.

Mens kry mos die ding dat jy op ‘n vreemde plek kom en dan ervaar jy onverwagse, irrasionele gevoelens. Woede, vrees of ‘n gevoel dat jy wil vlug. Die plantations met die oorsponklike slawehuise wat behoue gebly het, het verskillende reaksies en emosies by ons uitgelok. In so ‘n mate dat ons besef het dat die energie daar en die déjà vu wat ons ervaar het, uit die slawetyd kom en dat ons steeds nie vry is van daardie emosie nie. Ek het skielik ook daar ‘n duidelike prentjie in my kop gesien van hoe ek wegloop as slaaf, en dat die overseer my bo-op my voet met ‘n paal kap, as straf en om te verhoed dat ek weer wegloop. Dit verklaar toe ook later vir my waarom ek op dag een my vakansie begin het met ‘n pikswart voet, sonder enige besering of verklaring. Dit het glad nie soos ‘n gewone blou kol reageer wat verkleur en geel en groen verdof nie, dit het vir twee weke gewissel tussen swart of niks. My dokter het dit dopgehou per WhatsApp, maar was nie bekommerd nie.

Terwyl ons die dag by die hotel by die koffiemasjien staan, sien ek skielik ‘n armband by my voete lê, een van die einste armbande wat ek week vir week met moeite af- en aansukkel vir my paaloefeningklas. Ek het dit nie hoor val of rinkel of rol nie, dit het net by my voete gelê. My dogter het nog gelag en gesê, gooi af jou slawe-shackels, ja! Dis ‘n teken! Ek was ontsteld, juis omdat die armband ‘n spesiale geskenk was en ek waarde daaraan heg. Ek het dit met moeite weer oor my hand gekry en seker gemaak dit sit stewig, ons kon nie verstaan hoe dit sommer net so kon afkom nie. Die volgende aand in die hotel, het ek opgemerk die armband is weg. Net weg. Ons het oral gekyk, maar dit was net weg. Skielik het daar ‘n ongelooflike gevoel van verligting oor my gekom, asof ek baie lewens se onderdrukking net daar oorkom. Soos ‘n feniks wat uit die as vlieg, vry van jare se emosies. Die slaaf het vryheid gekry, vrygekap van haar eie boeie.

Daar was ‘n ligtheid in die laaste paar dae van die vakansie. Ons was heeltemal te vroeg op die lughawe vir ons terugvlug, en ons het ons gemaklik gemaak op lekker stoele, naby ‘n prop om die foon te laai, al ons handbagasie netjies onder en by die stoel gepak. Toe ek op ‘n stadium iets uit ‘n sak wou kry, lê daar in die spasie tussen my voete en die sakke, ‘n groot, opvallende silwer oorring, met ‘n simboliese infinity patroon, waar daar minute gelede niks gelê het nie. Ons het rondgekyk vir ‘n vrou met een oorring, maar die area was taamlik verlate, geen ander vrou in sig nie.

Toe tref dit my, as ek my eie shackles afgooi, kry ek in die plek daarvan ewige vrede. Hoe letterlik is ons lewenslesse soms, nè?

(Op die foto is dit die armband verste van my gesig, en die oorring hang nou by my ander toorgoedjies.)

“When the rusty shackles of our emotions are being unchained, we can become lovers without a cause, and intrinsically the deepest wells of our unconsciousness may uncover the uncharted territories of deliverance, granting free rein to our intuition and giving love downright carte blanche. (“Another empty room” )”
― Erik Pevernagie