Bitterbessie-dagbreek
bitterbessie-son
’n spieël het gebreek
tussen my en hom

Ingrid vryf met haar duim oor die saggevatte sakdoek. Sy kyk deur die venster, sonder om die grysheid van die see raak te sien, die mistige sout lug laat die vensters so vinnig aanpak. Die lug is grou en slierte reën maak strepe teen die venster. Sy kruis haar arms en vryf oor die hoendervel op haar bo-arms. André se nuutste brief het haar dieper getref as die bakleiery toe hy die laaste keer daar was. Sy was so opgewonde toe sy die bekende handskrif op die blou koevert sien, dat sy skaars die koevert kon oopkry. Hy sou soos altyd intens jammer wees omdat hy geïrriteerd reageer het en haar oor en oor verseker van sy liefde. Dit was ʼn besonder dun koevert, sy was amper te bang om dit oop te maak. Daar was toe net ʼn enkele velletjie van die dun tikpapier, en ook ʼn posorder vir R5. Haar vingers het gebewe toe sy die papier oopvou.

Liefste Kokon-myne,

Dis met groot spyt, maar tog ook ʼn mate van verligting, wat ek gelees het van ons moesiemeisietjie wat nóg ʼn maand nie gebeur het nie. Hierdie konflik kry my onder, ek wil ons liefde laat voortleef in ons meisietjie, tog kan ek nie dink om van Anton weg te gaan nie.

Ek is besig om vir jou ʼn lang, lang brief te skryf, maar moes dringend hierdie by jou kry. Estelle was baie omgekrap omdat ek een van die stel sakdoeke waarop sy my voorletters laat borduur het, “verlê” het.

Ai, my klein vleeslike vuur, my allerliefste kokon, ek dink aan ʼn verlate strand, om poedelkaal saam met jou te swem, en daarna onder die warm son by en ín mekaar te gaan lê.

Alles hierdie is in die lang brief waarmee ek besig is, maar intussen wil ek vra dat jy dringend vir my die sakdoek sal terugpos. Ek het vir Estelle gesê iemand by die werk se neus het gebloei en ek het my sakdoek aangebied en sy het dit saamgeneem om te was. Die posorder is om vir jou ʼn wit bikini te koop vir ons verlate strandjie, of ʼn geel rok, soos die son.

Later, liefste.

Altyd joune.

André is altyd so presies op sy klere, sy sakdoek altyd skoon en gestryk. Elke keer as hulle opmaak na ʼn hewige rusie, vee hy haar trane met sy sakdoek af en hierdie een het van die kassie langs haar enkelbed geval, waar hulle saam op haar knoppiesmatras gelê en rook het. Kaal, vermoeid en vervuld, was daar weer vrede na die rusie van vroeër.

Ingrid vryf met haar duim oor die riffies van die letters APB, gevorm deur die fyn, blinkerige blou borduurgare op die sakdoek. Die kontras van haar slordige rooi naels met die blou op die wit sakdoek lyk nogal mooi, mymer sy. Estelle het so alles van André, tog waardeer hulle mekaar nie, deel hulle nie hulle diepste geheime nie. Die gedagte aan sy “geheime” diep in haar, laat haar oë blink word van hartseer. Enige gewone liefdesverhaal sou dit diep poele van verdriet noem, maar hulle liefde is só anders, hulle is so rég vir mekaar, asof hulle mekaar net herken het uit vorige lewens en net aangegaan het waar hulle verhaal voorheen opgehou het. Maar nou is daar Estelle.

Daar kom ʼn wildheid in haar oë as sy dink aan André by Estelle, besig met die gewone goedjies in ʼn huishouding, hoe hy vir Anton opstaan in die nag. Die gedagte dat hy weer agter Estelle se slaapwarm lyf gaan inklim as Anton weer slaap, laat haar haar hare vasgryp en sy skree ten hemele. Sy dink aan hoe André, gou op sy perdjie maar tog altyd die een wat konflik vermy, aan haar hierdie wonderlike briewe skryf, hoe hulle in mekaar se skryfwerk kan opgaan, hulle diepste wese inmekaar laat vloei, een word op ʼn vlak ver verby die aardse. Wanneer hulle lywe by mekaar is, teen mekaar en in mekaar, is dit asof daar ʼn gedeelde bewussyn is en sy eers teruggolf na die hede as hy sy vinger om ʼn krul op haar voorkop draai.

Deur dieselfde newels sien sy nou vir Estelle, wat tog sekerlik moet wéét André lieg vir haar, moet weet daar is ʼn ander vrou. Hoe kan sy nie weet nie? Sy verbeel haar hoe Estelle vir André kyk, met versluierde oë en net ʼn glimlag wat wil-wil bewe om haar mondhoeke, effens spottend. Dan voel dit asof daar bloed agter haar oë opstoot om haar binne-in haar kop te verblind, sy haar harder asem en sy ruk aan die sakdoek, probeer dit skeur om die blou geborduurde letters te verwoes, asof sy vir André los wil skeur van Estelle, maar die dun soompie is te sterk. Sy gryp haar naelskêrtjie ek kap so hard in die sakdoek in, dat sy die bedkassie dwarsdeur die sakdoek krap. Sy ruk verder todat die fyngeweefde materiaal meegee en dit skeur. Toe dit vashaak teen die blou borduurgare, gee sy dit ʼn ekstra pluk en sy sit skielik met ʼn klein stukkie materiaal uit die hoek van die sakdoek. Nou is sy naam verwoes, soos wat hy haar lewe verwoes.

* * *

André draai die koevert om. Dit is dikker as die normale briewe. Hy is moeg, tot die dood toe moeg, na die gesprek met Estelle om haar voor te berei op sy voorneme om ʼn egskeiding aanhangig te maak. Sy hande bewe toe hy die sakdoek uithaal, toegevou deur ‘n enkele vel papier. Hy sien nie hoe die los stukkie materiaal val nie. Hy het die hele dag gewag op ʼn teken, iets konkreets wat rigting aanwys, want die hemel weet, hierdie konflik en sy liefde vir Ingrid gaan hom dood maak, of mal. Hy kan nie meer nie, hy kan nie meer sonder haar nie, maar hoe moet hy seker weet? Hoe? Jan en Marjorie sê reguit sy gaan hom verwoes, maar wat weet hulle van daardie goddelike lyf onder sy hande, hoe sy tintel en glim, asof sy lig afgee in die donker waarin hulle saam kan baai?

My liefste André,

Jy het my hart gebreek aan duisend stukke, die brokke lê versprei oor land en see. Gom sal dalk my hart weer aanmekaar kan las en plak, maar my siel, my siel is week en swak.

Die donkerte wil nie wyk, ek word verswelg onder die swaar wolk. Dis dik en taai en swart, en daal af. Af oor my, waar ek inmekaargekrul hier sit en voel hoe die taai swart kloue om my spin.

Nog ’n pil. Afgesluk sonder water. Niks help nie, die donkerte wil nie wyk. Waar is my kind? Kyk iemand na haar?

Jy, André, dit was net jy. Altyd jy. Jy kon jou hand uitsteek, en as ek aan jou raak, het ek lig gevoel. Lig gelyk en lig gedans. Lig en blink het ek dan gedartel deur my dag.

Maar nou het jy jou hand teruggetrek, en daarmee saam my lig. En my lag.

My lyk lê uitgespoel in wier en gras.

Op al die plekke waar ons eenmaal was

* * *

André word koud. Hy gaan nie een enkele dag wag nie, hy gaan nie nog ʼn uur wag nie, of hy nou ʼn teken kry of nie. Hy draai ʼn skoon vel papier in die tikmasjien, haal dit weer uit en staan op om ʼn vel deurslagpaier te kry. Hy huiwer net ʼn oomblik om die flenter materiaal met die letters PB daarop, op te tel, om dit by die res van die verrinneweerde sakdoek te sit. Dan gooi hy sy vuis in die lug. Die teken waarop hy gewag het. Ja!

Myne, liefste hart.

More bel ek jou. Dis verby. My huwelik is verby, nou kan niks meer tussen ons staan nie. Ek wil jou hê, my liefste kokon, die hele jy, net vir myself. Jy maak my heel, jy voltooi my. Hierdie flenter van my sakdoek met my halwe naam, stuur ek aan jou terug, as simbool van die halwe mens wat ek is sonder jou, my naam ontneem. Ek wil jou my naam hoor sê, vir altyd. Ek wil jou my naam hoor roep as jy kom, elke nag. Ek wil my hele self aan jou bied, as jy my sal aanvaar, my hele ek. ʼn Hele nuwe ons, en Simone natuurlik. Vir haar sal ek ʼn pa wil wees en saam sal ons ons moesiemeisietjie maak, ʼn sussie vir Simone.

Altyd joune,

Die hele ek.André Phillipus Brink.

PS: Het jy toe daardie wit bikini gaan koop?

51it4xmlh3l

Hierdie verhaal van Trisa Hugo is beloon met Kreatiwiteitsprys vir ‘n kortverhaal, ‘n Sussie vir Simone (2018) – Deur LAPA Uitgewers aangewys

(Hierdie fiktiewe briewe en gebeure is suiwer fiksie en met apologie aan Ingrid Jonker, André P Brink en Umuzi uitgewers wat die liefdesbriewe tussen Brink en Jonker gepubliseer het. Kliek hier om Vlam in die sneeu se eerste stuk gratis te lees.)

 

Advertisements