Mense wil alewig weet waarin/waaraan ons glo. My Christenvriende dink ek is ‘n Ateïs, en omgekeerd. Die wat weet ek is nie Ateïs óf Christen nie, wil my dadelik weer klassifiseer as iemand wat sommer in spoke en conspiracies glo. Op ‘n groep elders, waar dominees en ateïste saamgesels, het ek verskil van die definisie waaruit die groep bestaan. Kortliks het die ou gesê: Gelowiges, Ateïste, Agnostici en Post-teïste. Ek het gesê hy kan nog ‘n groep byvoeg, vir die mense wat glo aan ‘n goddelikheid, maar nie in God as entiteit nie. Ek het toe ‘n naam daaraan gekoppel, Alteïs, en in Engels Alltheism. (My eie woord, daar bestaan nie elders ‘n definisie daarvan nie.)

Vir myself is ‘n godsbegrip ons globale menswees, in interaksie met alles in en om ons, die natuur, plant en dier. Daar was ‘n interessante lesing by die 11e Wêreldkongres van die Theosophical Society deur Krista Umbjarv van Estonia, oor die moeilike pad na selfontwikkeling. One of the most difficult things on the path, is to unlearn.” Hoe waar is dit nie? Dat ons eers alle idees, teorieë en konsepte wat ons met die jare aanvaar het as die waarheid, wat soms aan ons opgedring en afgedwing is in ons vormingsjare, moet aflê, om as’t ware met ‘n skoon lei te begin. Dan eers kan spirituele ontwikkeling vorder. Haar slotwoorde soos deur Helena Petrovna Blavatsky was baie interessant:

“All human beings seek happiness and try to avoid suffering. The question is just how we define it, be it consciously or unconsciously. No spiritual progress at all, is possible except by and through the bulk of Humanity. It is only when the whole of Humanity has attained happiness that the individual can hope to become permanently happy — for the individual is an inseparable part of the Whole.”

Ek glo tog immers ek is deel van Alles, so dit maak sin dat ek nie iets kan wees wat die geheel nie is nie.

Ek glo aan ‘n Universele Bewussyn waarvan ons almal klein fragmentjies is. (Ander mense noem dit God, maar die woord “God” het vir my te veel konnotasies van ‘n messias-figuur, ek glo eerder in Alles.) Ek sien dit nie as ‘n entiteit nie, maar soos die oseaan. Ons is die druppels water wat spat as ‘n golf slaan. Elke druppel bevat volledig alle elemente van die groter entiteit, en word maklik weer deel van die geheel. Ons is die oseaan, ons is Alles. Dit is vir my die samevatting van alles wat is, ons ook. Vir myself is ‘n godsbegrip van Alles ons globale menswees, in interaksie met alles in en om ons. So maak dit dan vir my ook sin dat ons nie iets kan wees wat die groter geheel, nie is nie. Vir onsself om gelukkig en tevrede te wees, moet ons dus ook moeite doen om ander om ons, gelukkig en tevrede te hou. Natuurlik kan een persoon nie die wêreld as geheel red nie, maar elkeen van ons kan in ons eie klein kringetjies invloed hê.

Dit is ‘n idealistiese siening om te dink dit kan iets in die groter prentjie van ons toekoms wat betref mens, natuur, plant en dier verander, maar dan is die resultate van die geskiedenis tot dusver nou ook nie iets waarop ons juis wil voortbou nie, of hoe?

“No man is an island, entire of itself; every man is a piece of the continent, a part of the main. If a clod be washed away by the sea, Europe is the less, as well as if a promontory were, as well as if a manor of thy friend’s or of thine own were: any man’s death diminishes me, because I am involved in mankind, and therefore never send to know for whom the bells tolls; it tolls for thee.”
John Donne, No man is an island – A selection from the prose