IMG_20181020_170241.jpgEk was nege toe ek my eerste rok vir myself gemaak het. My ma het geknip en gepas en ek het gestik. Nogal met ‘n vierkantige hals, ‘n yoke met bias binding afgewerk, en ‘n ingeplooide middel. Die wit agtergrond met die blou blokkies wat uit fyn patroontjies bestaan het, was vir my vreeslik mooi en ek wou rooi binding hê, maar my ma het gesê nee, die blou pas beter. Dis so jammer ek het nie ‘n foto daarvan nie. Ek het mooi gevoel in die rok!

Dis eers later jare wat ek besef het dat my ma regtig besonder talentvol was, as kind het ek maar gedink dis hoe dit gedoen word dat jou ma jou meet en dan die materiaal op die tafel oopgooi, so met die skêr se punt die pante trek en begin knip. Ons rokke was altyd vol detail, bane, pante, moue met omboorsels, sakkies ens. Toe ons heel klein was, het my ma vir ons eenderse rokkies gemaak, maar so in die laerskool, het my ma begin om ons klere by ons individuele lywe aan te pas. Dit was net ‘n natuurlike uitvloeisel dat ek self my eie klere begin maak het, veral toe ek o heugelike dag, my eie some kon insit, altyd net daar waar ma hom meet, minus ‘n paar sentimeter. Dis sestigs en sewentigs was mos mini’s.

22712174_10155746001830396_2182470267825440521_o

556770_10150995301555396_1132714963_nHierdie een was my allergunstelingrok wat my ma ooit vir my gemaak het. Dit was ook blou en wit, met die wit afwerking en kant, ook die onderste dwarsbaan was vir my mooi. Hierdie rok het ek gedra totdat ek omtrent uit hom gebars het.

Maar dan was daar ook die geel rok. Ougoud. Die rok wat ek nie wou hê nie. Dit het gekom in ‘n tyd toe dit finansieel swaar(der) gegaan het. Daar was ‘n geleentheid, ek het uit my kerkrokke uitgegroei en geld vir materiaal was daar nie. Daar was wel ‘n groot stuk ougoud materiaal wat so geritsel het, wat al járe in die kas gelê het. Dit was gekoop vir volkspelerokke wat ons moes hê in 1962/3, die materiaal was klaar gekoop toe hulle besluit het net ‘n uitverkore paar kinders mag deelneem. Ek kan dink hoe bitter my ma moes wees oor die onnodige vermorsing. Die geleentheid was op hande, ek het uit my kerkklere uitgegroei, die nood het gedruk en ek het ‘n rok van daardie haatlike materiaal gekry. Ek het besef dis hoe dit is. Ter wille van my ma het ek stilgebly maar ek moes dit gedra het, want daar was nie ‘n ander keuse nie. Met sokkies en skoolskoene, as groot dogter. My ma het probeer troos deur kantjies op te werk, wat dit eintlik nog erger gemaak het. Maar ek het met ‘n regop ruggie in die kerk ingeloop daarmee, Sondag vir Sondag. Dit was my enigste rok ooit, wat ek gehaat het.

FB_IMG_1540058947519.jpg

Dan het ek ook ‘n romp gehad wat my jonk, mooi en vry laat voel het. In standerd vier het ons ‘n volkspele-aand gehad, en ek wou so graag die romp die middag maak om te dra. Koningsblou, met sulke Mary Quant blommetjies op, met ‘n wit bloese by. My ma het later met die soom begin, terwyl ek plooitjies geryg het. Die romp was so wyd, ons kon elkeen aan ‘n kant begin en soom insit. Daardie jare sou ons nie droom om ‘n soom met die masjien te stik nie! Die romp was nét betyds klaar en die aand het ek vreeslik mooi gevoel as hy so swaai as ons tiekiedraai. Dodelike verlief op Louwtjie vir die aand.

My mooiste rok ooit, het ek nooit gedra nie, die rok wat ek vir onsmatriekafskeid gemaak het, wat ons toe nooit gehad het nie. Donkerpers, in ‘n styl wat die meisies nou dra, eenvoudig en nousluited, met lae V-hals. Om een of ander rede is ons matriekafskeid verander in ‘n oueraand, met skooldrag. Voordat ek die rok kon dra na ‘n geleentheid, het ek hom uitgegroei. (Ek het na matriek nog gegroei, was mos maar nog kind, toe.)

Maar die kind het gegroei en nou dra ek wat ek wil, want ek kan. En ek weet herinneringe hang af van hoe iets jou laat voel het.

“And the day came when the risk to remain tight in a bud was more painful than the risk it took to blossom.” 
― Anais Nin