“Oor die gediggies self sal nie uitgewei word nie. Vir hulleself spreek hulle en die leser oordeel self of hier iets in Afrikaans gesê word wat die moeite werd was van die vergeetlikheid te red. Wat ook al die kritici mag sê, een feit bly gewis: die hoogste toets van die werklike waarde van ‘n gedig – soos van enige kunswerk – bestaat hierin dat die leser, aanskouer, toehoorder na dieselfde werk teruggedwing word, – en wat gedigte spesiaal betref, dat hulle gelees, geleer en geresiteer word, nie omdat iemand hulle aanbeveel nie maar vanweë die genot wat die leser self daaruit skep.”

Hierdie is ‘n aanhaling deur Eugène Marais uit die voorwoord by die eerste druk van Gedigte, deur AG Visser (1925).

Mens se gedagtes kan darem wye draaie loop. Nadat ek vanoggend bietjie in die stambome van my voorouers rondgekrap het, het ek weer op die naam gekliek van “oorle’ Martiens” soos my ouma altyd na hom verwys het, en dan ‘n veraf kyk in haar oë gekry het en nie verder wou praat nie. (Marthinus Pretorius March 17, 1917 – May 30, 1935 (k1a1a). Wat die sterfte van hierdie pragtige jong man wat in sy matriekjaar oorlede is so hartseer maak, is dat hy dood is aan ‘n seer plekkie in sy nek wat ontsteek geraak het waar dit teen sy kraag skuur, en hy dood is aan bloedvergiftiging. Dit was natuurlik die dae voor antibiotika.

Wat my aan hierdie oudste broer van my pa laat dink het, is sy skooldigbundel wat op my rak lê. My pa was ook besonder lief vir gedigte, en ek het ook twee van sy bundels wat hy op 21 gekoop het. Daarom seker dat hy ook sy oorle’ ouboet se digbundel gekry het, al was hy die jongste van die oorblywende drie broers. (Die jongstetjie is op die ouderdom van 3 weke dood, aan kroep, weereens voor die dae van nebuliseerders.)

Pretorius ou foto's 05.jpg

Aangrypend was die twee verweerde merkplekke in die digbundel, wat een van die twee laaste hanteer het. Die een ‘n verweerde blou lintjie en die ander ‘n voos pienk flentertjie papier. Beide was by liefdesgedigte (Sien foto’s). Was dit Martiens met sy kop vol drome oor die toekoms, was hy dalk reeds verlief? Of was dit my pa in die tyd toe hy na my ma gevry het?

Daar is soveel stories opgesluit in die verlede en dit het my diep geroer vandag om te dink aan hierdie twee jong mans, een wat gesterf het op die drumpel van sy grootmenslewe toe drome nog net in digbundels bestaan het; en my pa wat ons nooit vertel het van sy drome as jong man nie, en hy het gesterf en ek het hom nooit daaroor uitgevra nie.

How Do I Love Thee? (Sonnet 43)
Elizabeth Barrett Browning, 1806 – 1861

How do I love thee? Let me count the ways.
I love thee to the depth and breadth and height
My soul can reach, when feeling out of sight
For the ends of being and ideal grace.
I love thee to the level of every day’s
Most quiet need, by sun and candle-light.
I love thee freely, as men strive for right.
I love thee purely, as they turn from praise.
I love thee with the passion put to use
In my old griefs, and with my childhood’s faith.
I love thee with a love I seemed to lose
With my lost saints. I love thee with the breath,
Smiles, tears, of all my life; and, if God choose,
I shall but love thee better after death.