Wanneer het mense verleer om te lees wat swart op wit staan? Wanneer het dit ‘n ding geword om vreemde mense aan te val oor dinge wat hulle nie gesê het nie, of wat hulle dínk iemand het bedoel of gesê? Wanneer het dit rég geword om die hele konteks van iets te ignoreer en net een sin te vat en daarmee te lóóp? Wanneer het dit rég geword dat bekendes soos sangers en akteurs met enige iets kan wegkom, maar ons gewone plebs kan dieselfde doen en dan verguis word daarvoor? Wanneer het die tropmentaliteit ontaard in ‘n geboelie? Met luide aanmoediging van ‘n klomp bloedlekkers en dié wat popcorn nader sleep? Dan is daar ook die agternapraters, wat lank na die stof gaan lê het en net die popcorn se krummels oor is, gou nog hulle stemme wil laat hoor.

Die afgelope week was ek getuie van ‘n situasie wat ongeveer al hierdie gedrag in een klein stofstormpie opgelewer het, toe alle logika dadelik by die agterdeur uit is. Geen logiese redenasie is dan moontlik nie, mense luister eenvoudig dan net nie na mekaar nie.

En as so ‘n klein geveggie, wat eintlik net ‘n stofkolletjie op die horison is aan die gang is, dan gee dit ook ‘n ge-unfriendery en geblokkery af. Dikwels ten goede, bygesê. So verhoog die kwaliteit van my kringe telkens.

Nou wonder ek, wat het verander en waarom? Wie het verander? Sou mense dieselfde optree waar dieselfde situasie in werklikheid afspeel? Natuurlik nie! In die eerste plek sou die situasie nie eers ontstaan het nie, want mense eien hulle dinge van agter hulle sleutelbord toe, wat hulle nooit vir iemand van aangesig tot aangesig sou sê nie.

Agterna beskou, sou alles verhoed gewees het, as mense bloot met begrip gelees het wat daar staan, en nie op hol gegaan het met wat hulle dink ander bedoel het nie.

Dalk moet ons almal Ouma se bril op ons wolfsgevrete sit, om beter te kan sien my kind. En ons ore bietjie was, om beter te kan hoor, my kind.

Advertisements