“Hoe sal ‘n seun ooit werklik sy ma, susters, ouma en uiteindelik sy eie vrou en dogters respekteer as sy pa herhaaldelik om die braaivleisvuur grappies oor “dom vroue” en hul geslagsdele vertel? Of wanneer hy oor en oor hoor dat vroue seksuele gebruiksartikels is, wat nie sy gelyke is nie?”

Hierdie woorde van Elsabé Brits, in ‘n uitstekende artikel in vandag se By, het my diep geraak.

Mans, dink asseblief baie mooi na, hoe diep geïndoktrineer julle is om dit dalk nie eers meer bewustelik te doen nie, maar tóg nog doen. En ons as vroue is ewe diep geïndoktrineer as ons lag vir daardie grappies. Selfs al is dit ‘n ongemaklike laggie, om tog nou nét nie ‘n scene te maak nie.

Dis tyd om dit te staak. Regtig.

Dink ‘n bietjie terug hoe het gesprekke afgeloop waar vroue probeer het om te sê hoe hulle daaroor voel? In huise na die braai, in werksplekke en op Facebook. Vroue se monde word gesnoer deur hulle te vertel hulle is oorsentitief, hulle het geen humorsin nie, om nie die feministiese etiket te vergeet wat soos ‘n aanklag om haar nek gehang word nie. Deesdae ook dié van Suffragette. Summiere skuldigbevinding, sonder ‘n verhoor.

Vroue het ek oor die dekades heen gesien stilbly hieroor, of saam gelag, maar mens kon die pyn in so ‘n vrou se oë sien. Want wat was die alternatief? Ek kan ook vrees by ‘n paar vroue onthou as ‘n ander vrou in die geselskap sou kapsie maak. Nou sidder as ek dink aan die gevolge wat so iets vir ‘n vrou kon inhou.

Dan het ons nog nie eers begin met gay vroue nie. Hulle “kort mos net ‘n goeie vry”, maar laat ek nou nie namens gay vroue praat nie, die vooroordele en aannames is nog meer as ‘n blog lank.

Julle dink ek vergroot? Vererger? Dan sou artikels soos hierbo en skrywes soos hierdie nie nodig gewees het nie en sou die hofsale nie vol gesit het van die aanklagte van huishoudelike geweld en verkragting nie. (En ons praat ook net van die klein persentasie wat wel aangemeld word.)

“To every guy who tries to say that we have already achieved equality for the sexes, if this were true, you wouldn’t be told to “man up”, “be a man”, “stop being a p*#%y”, “harden the fuck up”, “toughen up”, “boys don’t cry”, “don’t be such a girl”, “stop being a wimp”. As long as this type of language still exists in our society, then gender equality, my friends, has in fact not been achieved after all.”
― Miya Yamanouchi, Embrace Your Sexual Self: A Practical Guide for Women