In 2014 het ek iets geskryf oor ‘n diep vriendskap, wat my die grootste vreugde, maar ook die grootste pyn ooit besorg het. Hierdie is die verkorte, meer gedempte weergawe.

***

Vandag voel ek vry! Ek het ʼn blou baadjie wat my nog nooit gepas het nie, uitgegooi by die ander ou klere. ʼn Baadjie wat amper nege jaar in my kas gehang het, en ek net een keer vir ʼn kort rukkie aangehad het, omdat hy my sleg pas. Netjies opgevou in die mandjie by die ander goed, reg om weggegee te word.

Op ʼn paar dae na, is dit nou nege jaar sedert my hartsvriendin se man haar doodgeskiet het. Koelbloedig, eers vyf skote in haar bors met ʼn rewolwer, en toe het hy haar gesig met ʼn haelgeweer weggeblaas. As ek jou nie kan kry nie, sal niemand anders ooit weer in jou mooi gesiggie vaskyk nie. Dit is hierdie woorde wat in ʼn vyftien-jarige dogter se brein gegraveer is, net voordat sy histeries begin skreeu het. Die geskreeu het oorgegaan in rou kreune, skaars hoorbaar, waar sy soos ʼn fetus in ʼn bondeltjie langs haar ma gelê het. Sy het nooit die haelgeweer se tweede skoot gehoor, wat haar pa se bloed en breins oor die mat en meubels versprei het nie. Ook oor my stoele, wat ek vir haar geleen het.

Ek hoef nie my oë toe te maak om die prentjie te sien van die dogter wat by Rosebank Mall se roltrappe afhardloop, en uitasem sê: Ek hoop nie tannie het klaar kaartjies gekoop nie, ons kan nie meer fliek nie, ons trek, en tannie-hulle moet kom help. Die reëling was altyd dat die een wat eerste daar is, solank die kaartjies koop, vir twee ma’s met twee dogters.

As ek terugdink aan my rooi Mini, sien ek altyd hoeveel bondels klere, en los bakke, en los stukke meubels op een slag in so ʼn klein karretjie kan pas. En ek dink hoe vinnig, en hoeveel keer mens tussen Roodepoort en Randburg in een middag kan ry. Die adrenalien wat energie gee om nóg ʼn keer met ʼn stel trappe op te klim. Die genade om ʼn kind wat in ʼn woedebui byna verwurg is, se nek saggies met salfies in te vryf, voor ek hom op ʼn bus laai na sy tannie toe.

Dit alles het my met net genoeg energie gelaat, om met ʼn oop gesig te lieg toe hy my na haar vra: Nee, ek het nie ʼn clue nie, ek het gister laas met haar gepraat. Mens kry egter genade en krag, om nie ʼn man te haat (of te antwoord) wat vir jou sesuur die oggend aan jou kombuistafel skreeu: “Ek sal haar fokken dóódmaak as ek haar kry, en dit sal jóú skuld wees! Dis jý wat allerhande bliksemse idees in haar kop gesit het!”

Dis verbasend om te sien hoe ʼn lyksbesorger so ʼn flenter-gesig bymekaar kan trek, en plak, om bloedloos bleek, ʼn stuk gesig so tussen wit satynvoue te rangskik, dat dit amper herkenbaar, sy, is. Wit, koud en hard.
Dit was toe maklik om vir die dooie vrou te sê: Ek sal na jou kinders kyk, ek sal kyk dat hulle groot kom.

Iewers het ek krag vandaan gekry om haar dogter genoeg te kalmeer om lank genoeg op te hou ruk en bewe, om in die kerk te hoor wat die predikant sê. Of eintlik, vir die familie se onthalwe, deur die diens te sit. Die familie wat meer bekommerd was oor die geskiktheid van ʼn donkerblou fluweel aandrok wat die kind wou dra, want dis die laaste ding waaroor sy en haar ma gepraat het, die blou rok wat sy aangepas het.

Dis met dieselfde blou aandrok wat ek haar direk na die roudiens na haar gunsteling restaurant geneem het, waar sy gereeld saam met haar ma gaan eet het. Waar die kelnerin, Gaby, ja Gaby was haar naam, haar vasgehou het sonder om ʼn woord te sê, want sy het ons goed geken.

Twee hoërskoolkinders het dapper aangegaan om alles uit te sorteer, om ʼn garage verkoping te hou van oortollige klere en meubels. Met eenkant ʼn hopie, met ʼn paar baadjies vir my, want ek weet tannie het so van die groen baadjie gehou, en die bloue. Sulke dinge soos om briewetasse leeg te maak, en boeke uit te soek het hulle besig gehou. Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves ook op my hopie, want my ma het gesê Tannie moet beslis hierdie boek lees. Twee kinders het met boedelberedderaars en eksekuteurs gepraat en onderhandel.

Daar was dingetjies waarmee ek kon help, soos om te wys hoe werk die wasmasjien, maar die seerste seer uitsorteerwerk kon net die twee kinders doen. Kinders wat ek intiem geken het, en hulle vir my.

En nou? Nege jaar later? Algaande het ek my belofte verbreek, en al hoe minder kontak gemaak. Skuldig gevoel, maar nie skuldig genoeg om te bel nie. Belofte maak skuld? Die feit dat die kinders nie kontak gemaak het nie, verander niks, ék is die grootmens wat belowe het.

Dit het goed gegaan met die kinders, en dit het sleg gegaan, sommer baie sleg. Baie groot bedrae geld is op heroïen spandeer, en later op rehab. Die goeie goed het ek agterna van gehoor.

Nou wat maak dat ʼn mens net mooi op ʼn dag opstaan, en voel jy wil skoonmaak? Skoonmaak en afskil, agterlaat. Elke kledingstuk in my kas het ek uitgehaal, oorweeg, en óf teruggesit, óf uitgegooi. Die groen baadjie het ek oorweeg, en gedink, nee, ek dra dit gereeld, en teruggesit in die kas, en boontoe opgepraat: Dankie Vriendin, dat jy altyd sulke goeie kwaliteit klere gekoop het! Die blou baadjie kon ek sonder emosie uithaal, aanpas en besluit, nee, dit doen absoluut niks vir my nie.

***

Nou, nog ‘n paar jaar later, besef ek toe ek hierdie stukkie geskryf het, mas dit maar net die begin van die pproses om finaal afskeid te neem. Van my vriendin en van my pyn.

When you part from your friend, you grieve not; For that which you love most in him may be clearer in his absence, as the mountain to the climber is clearer from the plain.
– Kahlil Gibran

Advertisements