Die internet is ‘n wonderlike ding, mens besef nie hoeveel van jouself bly in die lug rondsweef vir baie jare nie. So ontdek ek nou ‘n stukkie wat oorlede “Ouboet” oor my geskryf het. Hoe graag sou ek nou vir hom wou dankie sê vir sy insig, hoe hy my gesien het 10 jaar gelede, al het ons dikwels vasgesit en hy het dan telkens gekla het oor die snotklap wat hy voor die hoofpawiljoen gekry het. So het hy my gesien:

Ek en vriendin MaanKind het ‘n deal.  Ek “spec” haar en sy doen dieselfde met my. Dus, die karakter MaanKind manifesteer soos volg deur my bril: 

1.) Sal die volgende die meeste geniet:
Sononder op die strand met haar kleinkinders om haar en ’n glasie. Meerlust Rubicon in die hand

2.)  Watter tipe film sal hulle die meeste geniet:
Titanic, Captain Corelli’s Mandolin, The pianist.  

3.)  Watter tipe restaurant sal hy/sy die meeste geniet:
Die visplek op Houtbaai se strand.

4.)  Watter stelling beskryf jou blogmaat die beste:
Slim moederfiguur wat nie nonsens vat nie. Gee moeilik komplimente en as sy een gee, verdien jy hom. Eerder haar pel as haar vyand.

5.)  Hoe sou jy jou blogmaat se dress sense beskryf:
Stylvol en smaakvol

6.)  Watter woorde som hom/haar die beste op:
Die kombinasie van ’n huishen, kultuurliefhebber en intellektueel.

7.) Watter soort voertuig dink jy pas die beste by jou blogmaat:
Die nuwe E-klas Merc, maar ek weet sy gaan van my verskil. Dus ‘n wit Corolla.

8.) Waarna dink jy luister jou blogmaat:
Verseker nie Worsie Visser, Charles Jacobe, Cora Marie of Jurie Els nie. Dalk iets nader aan die teenpool. Ek vermoed Adante Cantabile van Rachmaninoff (du Plooys van Soetmelksvlei se kenwysie) sal sy geniet, so ook die kabbelende meevoerendheid van Schubert se Impromptu in Amol en Sinding se Rustle of spring.  Dus, musiek nader aan class musiek as aan kontreimusiek.

9.) Watter stokperdjie/tydsverdryf pas by hulle:
Skryf, kultuur, reis en kuier, boeke, boeke, boeke & tjloklitkoeke

10.) Aan watter historiese figuur laat jou blogmaat jou die meeste dink en hoekom?
Die raakpunt tussen Florence Nightingale, Olive Schreiner en Barones Maggie Thatcher.  Hier en daar slaan“ shades of Mother Theresa“ deur.

(Oor die “Stylvol en smaakvol” sou ons kon stry. Ek is ‘n jeans-mens)

Elke mens het ‘n paar selwe:

Eerstens soos jy jouself sien of beleef. Jou selfbeeld, of dit wat jy van jouself dink, die mens wat jy dink jy is. Dan soos ander jou sien en beleef. Jou naastes, jou kinders en jou partner sien jou natuurlik anders as mense in jou werksituasie, want jy tree anders op daar. Openbare figure het ook ‘n openbare beeld wat sekerlik verskil van die mens wat jy by die huis is. Dan is daar jou virtuele self. Ek het bv al voorheen ‘n blog gehad met ‘n totaal ander persoonlikheid as my eie. So was ek ‘n ander mens, was ek ék, of watter deel van daardie persona was ‘n deel van myself? Dan die mens wat of wie jy werklik is. Die mens wat IS, wat die manifestering van jou gedagtes is. Die een waar jou hart volgens die ou Egiptenare na jou dood geweeg word wat ligter as ‘n veer moes wees.

Elke mens wat Egipte toe gaan, bring seker sy eie stukkie papirus saam, en hierdie een was in 1999 absoluut my eerste keuse, die onderste een waar die weighing of the heart seremonie deur die god Anubis gedoen word, en deur Thoth opgeskrywe word. Ek wou dit hê as simbool om altyd te poog dat my hart so lig sal wees as ‘n veer, dat my gedrag ‘n manifestasie is van my gedagtes. Dit lol maar, maar ek probeer. Die een waar Akhenaten en Nefertiti onder die son sit wat hulle aanbid, het vir my maar net die gedagte gelaat dat die son wyd genoeg skyn vir ons almal. Ongeag.

15303897_10154659340105396_823887325_o.jpg

Die groot vraag is seker hoe ons hierdie verskillende Selwe leef en beleef, met die ideaal dat al hierdie Selwe so na as moontlik aan mekaar is.

“People are crying up the rich and variegated plumage of the peacock, and he is himself blushing at the sight of his ugly feet.”
― Sa’di

Advertisements