Daardie ou cliché van “If you can dream it, you can do it” hou nie meer vir my water nie. Dis eenvoudig lagwekkend om groter te droom as jy nie eers die huidige realiteit kan laat funksioneer nie.

Hierdie siniese stelling maak ek terwyl mense stry oor ons President se droom van ‘n nuwe stad, met hipermoderne skole, hospitale en die nuutste tegnologie; terwyl dit wat beskikbaar is, in die grond in bestuur word. Opleidingsfasiliteite sluit oral en standaarde verlaag tot op ‘n lagwekkende punt. Hierdie afdraande pad het nou in ‘n spiraal beland. Kan CR se droom ons daar uitlig? Malema is reg as hy sê ons is nou wakker, daar moet nou gedoen word.

Maar wat kan ek doen? Ek kan nie ander se seer en siek fix nie, ek kan nie my dorp of my land fix nie. Hopelik kan ek myself nog fix. Voortaan gaan ek nie meer my energie fokus op iets waarteen ek magteloos is nie.

Meeste van ons lyk al soos ‘n ou fietsband uit die sewentigs met soveel Patch & Solution op van al die traumas wat ons en ons naastes in hierdie land beleef wat ons moet verwerk en aanvaar en oor rou, dat die fietsband lyk soos ‘n laslappieleerbaadjie uit die tagtigs.

Van nou af konsentreer ek op myself en my eie kringetjie, op dinge wat ek kan beheer en my gelukkig maak. Ek neem kennis van wat om my gebeur en ek doen wat ek kan.

Droom gerus, maar dink en doen terselfdertyd. Niks gebeur vanself soos in flieks, romantiese fiksie of cliché’s what klakkeloos gedeel word, sonder om regtig daaroor te dink en dan iets daaraan te doen nie.

Dreams are good friends when you’re lonely, indeed. Drome kan troos, dit gee hoop. En ons kan saam met John Lennon Imagine…

Imagine all the people
Living life in peace
You may say that I’m a dreamer
But I’m not the only one
I hope someday you’ll join us
And the world will be as one

Advertisements