Meeste mense verstaan nie die konsep verandering nie, hulle kan net vergelyk met dit wat hulle reeds ken.

Waarom skop mense so teen verandering? In my bietjie meer as ses dekades het Afrikaans as taal baie verander. Lees maar net die boeke wat geskryf is in die tyd toe jy ‘n kind was. Lees die klassieke werk van Hettie Smit, Sy kom met die sekelmaan (1937). Voordat jy dit as oud en argaïs afskiet, lees dit vir van die mooiste stukkies prosa in Afrikaans uit vorige eras. Taal verander. Omdat dit so geleidelik gebeur, besef ons dit nie. Ek kom gedurig in die versoeking om vir mense te vra wat so verwoed veg om behoud van die taal, tot op watter stadium wil hulle die taal behou soos dit is, want hulle besef nie hoe dit onder ons neuse verander nie. Onthou die dae toe kondensmelk swak taal was? Mens moes praat van versoete gekondenseerde melk.

Neem nou maar die weerstand teen e-lesers. Soveel mense soos daar is wat Kindles en ander e-lesers besit, soveel mense is daar wat daarteen weerstand bied. Hulle praat graag van die reuk en gevoel van ʼn régte boek, maar lief soos wat ek vir boeke is, so min hou ek van die hooikoors wat ek kry van stowwerige boeke (al is dit ook nou my 1944 weergawe van Sy kom met die sekelmaan), en die chemikalië wat ek ruik by ʼn splinternuwe boek. Ek is passievol oor nuwe tegnologie sowel as boeke; daarom was dit maklik om in hierdie bedryf te begin leer van die verwerking van e-boeke. Eens op ‘n tyd is boeke op kleitablette geskryf en die tegnologie het sodanig ontwikkel dat die ou Egiptenare papirusvelle kon maak om op te skryf en te skilder. Ons Afrikaanse taal het ontwikkel uit Hoog-Hollands, met insette van ander tale. Die manier waarop ons lees, hou tred met die lewe – dit is dinamies, dit groei en verander. Daar was ‘n tyd toe mense ook gekant was teen televisie, rekenaars en selfone en tot vandag is sommige skrywers steeds nostalgies oor die gesellige gekletter van ‘n tikmasjien.

Kom ons verander saam met die taal, ons skep ons eietydse liefdesverhale, ons verewig dit op die platforms van ons tyd, as ons kom met die sekelmaan.

Net so verander dinge in ons land. And shit happens. Oral, nie net by ons nie. Daar is die klomp wat skree: eindtye, dis die laaste van dae. Dan dink ek weer, ons leef eintlik in wonderlike, gesofistikeerde tye. My ouma was in ‘n konsentrasiekamp in die ABO. My ma was ‘n kind tydens WWII en het grootgeword met die kosskaarstes van die nagevolge daarvan. Wat maak ons geslag so spesiaal dat ons nie kan of wil glo dat shit inderdaad happens nie? As dit nou gehelp het om te kerm daaroor, het ek op my balkon gaan staan en my frustrasies onder die maan uitgeskreeu. Maar nou hoor net my maters dit as ek kla, en nie een van hulle is by magte om hulleself te help teen die frustrasie van alles nie, en allermins kan hulle my help.

Romantiek en nostalgie oor kinder- en studentejare verkoop produkte, maar as jy dit in perspektief sien, is dit illusies. Geldeenhede en betaalmiddels verander. Die aarde se struktuur verander. Weerpatrone, geografiese veranderinge, natuurrampe, ystydperke, kuslyne, pole en meer. Daar is soveel ingrypende veranderinge waarvan ons weet. As mens kyk na die geskiedenis en lae waarop gebou is in stede soos Londen en die hawestad Jaffa in Israel, sien jy hoeveel beskawings het al gekom en gegaan. Londen se Groot Vuur van 1666 was maar net een van ‘n paar. Pompeii, die legende van Atlantis en ‘n stad onder die see in Alexandria, is maar net ‘n paar bekende voorbeelde  van vorige beskawings wat deur rampe verwoes is. Daar is ‘n onderwatergrot in Meksiko ontdek, met artifakte en menslike oorblyfsels van die Mayas. In Seattle is daar Pioneer Square, met ondergrondse strate, van ‘n stad onder die stad. Ons kan eenvoudig nie dorpe en stede verhoed om te verander nie.

Eetgewoontes, modes, haarstyle, selfs die manier hoe mense troeteldiere hanteer, verander. Ons self verander. Geloof en religieuse gebruike verander. Alles kom en gaan. Liefde ook. Mense sweer ewige trou en skei terwyl hulle mog aan die troue afbetaal. ‘n Mens kan sulke veranderings letterlik na enige iets terugtrek. Meeste verandering gebeur geleidelik, dikwels sonder dat ons dit agterkom. Tog wil mense dit behou wat hulle ken en dit meet aan dit wat hulle reeds beleef het, sonder om te dink iemand wat net 5 of 10 jaar ouer is, het meer beleef en wil vashou aan nog ‘n entjie die verlede in.

Do what has to be done. Ontwikkel jou ruimtelike intelligensie en sien jouself in perspektief ten opsigte van die nuwe, veranderde lewe.

“Christianity, like genius, is one of the hardest concepts to forgive. We hear what we want to hear and accept what we want to accept, for the most part, simply because there is nothing more offensive than feeling like you have to re-evaluate your own train of thought and purpose in life. You have to die to an extent in your hunger for faith, for wisdom, and quite frankly, most people aren’t ready to die.”
― Criss Jami, Killosophy

Advertisements