Ons hou mos van rondry. Op ons reise, vat ons meestal the road less travelled en as ons by ‘n vurk kom, vat ons hom.

So het ons een ook een goeie dag op die perde-begrafplaas van Ella Gordon afgekom. Ella Gordon Dove Colston, is in Edinburgh in Scotland gebore, op 18 Januarie 1873. Sy het tuisonderrig gehad, maar op 18-jarige ouderdom, het haar verligte pa toegelaat dat sy ook privaatonderig op universiteitsvlak kry, in Engels, Frans en Geskiedenis. Gedurende 1887 – 1893 het Ella ook onderrig in Musiek en Drama gehad, en deel geword van die gewilde verskeidenheidskonserte van die tyd.

Na haar pa se dood in 1897 het Ella in Frankryk betrokke geraak met ‘n teatergroep en sirkus, en daar haar liefde vir perde uitgeleef. In die vroeë 1900’s het sy na Suid-Afrika gekom,waar sy by die Tivoli teater opgetree het en haar lewensmaat Klara Markgraaff ontmoet het.

Sy het aanvanklik ‘n gedeelte van die plaas Braemer gekoop en daar ‘n huis gebou, wat vandag deel is van die Hamilton Russell landgoed. In 1907 het sy na Karwyderskraal getrek. Sy het haar eie huis gebou in ‘n individualistiese styl en die mure met frescoes versier. Sy het ook haar eie meubels gemaak.

Ella was streng met haar werkers, kerkbywoning was verpligtend en wyn wat totaal verbied op die plaas. Sy het ‘n skool, ‘n kerk, stalle en huise gebou en daar was ‘n hegte gemeenskap op die plaas. Sy het ‘n groot liefde vir perde en honde gehad en hulle ook afgerig. Haar perde is in behoorlik gemerkte grafte begrawe, so ook haar geliefde hondjie Moppy.

Sy het as die “perdevrou van die Overberg” bekend gestaan vanweë haar liefde vir haar perde en honde en hoewel sy baie geliefd was, was haar seksuele oriëntasie vir baie mense ’n steen des aanstoots. Sy was ook bekend as “die vrou met die kruisbande” en het haar liefde vir Klara op die plaas Karwyderskraal uitgeleef.

Weggesteek op ‘n plaas op die Karwyderskraalpad naby die Hemel-en-aarde vallei, is die vreemde, verwaarloosde begrafplaas vandag nog te sien. In nege uitgemerkte blokke, kompleet met verweerde grafstene, rus Ella Gordon se geliefde perde. Slegs ‘n paar se grafskrifte is nog sigbaar:

Wickers. Trick Hors. Clever, good and true. Aurevoir old friend. From EGDC Booysums the wonder horse, we shall meet to part no more.

Polly my saddle horse good and true. Rest thy work’s done.

In die hoek van die gewone begrafplaas, is nog ‘n vreemde graf, langs dié van Ella Gordon. Die steen is gebars en verweer, maar daar is nog ‘n paar woorde sigbaar. Woppy my dog Died Nov 17 Age 18 Yrs. We’ll meet to part no more. RIP EGDC

Vandag is daar min van hierdie legendariese vrou se erfenis sigbaar op die Karwyderskraal plaas. Dit is moeilik bereikbaar en haar bouvallige huis en die verwaarloosde grafte is toegegroei met gras. In 2016 was daar nog ‘n crèche in die ou skool, maar dit het gevaar gestaan om weens die gebrek aan instandhouding en gebrek aan fondse, te sluit. Ek hoop van harte die fondsinsamelings was suksesvol.

Dramaturg Charles Fourie het ‘n paar jaar gelede ‘n stuk op die planke gebring: Ella se perde. “God se liefde is wyd, maar is dit wyd genoeg om honde, perde en lesbiërs in die hemel toe te laat?” was die tema van die stuk.

Stof is jy… En tot stof sal jy…

Ella Gordon se verwaarloosde huis in 2013
Ella Gordon se ongemerkte graf
Perdegrafte
Die graf van Wickers, trick hors (sic)
Ella se hond, Woppy, se graf, langs haar eie.
Die crèche, soos dit in 2016 gelyk het.
Advertisements