Jare gelede toe John nog ‘n “Belangrike Man” in Johannesburg was, was ons genooide gaste by een of ander perdewedren, een van daardies wat jy vir jou smart aantrek, seekosetes kry en so aan, en met so ‘n spesiale plek waar ons ons weddenskappe kon plaas. Nou my geliefde is nie ‘n man wat hom ophou met ‘n gedobbelry nie, maar ons tafelgenoot het saam met my ons weddenskappe geplaas en dan het ons met groot gejuig ons perde dopgehou en dan ons wengeld gaan haal en summier weer verwed. Lékker man. Ek onthou ek het so swart mini aangehad, en sulke wilde fish-nets met rose op. En ‘n sexy swart hoed.

Ons was net weer besig om ons nuwe perde te kies, toe ‘n man met sulke ysblou oë my op die skouer tik en vra: En hoe, presies, kies julle twee mooi meisies julle perde dat julle so aanmekaar wen?

Daardie een sin van die man met die ysblou oë, het ‘n reeks gebeure in plek laat val soos ‘n Rubik’s Cube wat in plek kliek.

Nou Die Man Met Die Ysblou Oë het in my lewe bly opduik, op onwaarskynlike plekke. Hy was die eienaar van die restaurant waar ek my oggendkoffie gedrink het in Melville, waar ek my dag beplan het. Ek het hom raakgeloop by die Toastmasters klub waaraan ek behoort het, wat kilometers ver was van beide ons huise. Een aand op pad na Toastmasters, lui my baksteen Ericson en hy vra hy ek moet hom ontmoet vir koffie voor die tyd en ons kom nooit by Toastmasters uit nie, maar begin ‘n besigheid saam. ‘n Kwekery. Ek het die volgende dag mt werk bedank. Net so. Security blankets se dinges.

Kyk, ons is grootgemaak in ‘n tyd wat jy gaan studeer het in ‘n ‘veilige’ rigting soos onderwys, sodat jy iets het ‘om op terug te val’ nie. Niemand het egter ooit gesê waarop jy gaan terugval nie. Nou daardie jare het jy ook besluit watter werk jy wil doen, aansoek gedoen, en die pos gekry. Veilige beroepe, sekuriteit, pensioenskemas. Jy het ook nie sómmer van werk verander nie. Wrapped in security blankets, dit was ons.

Drie jaar later was John ook nie meer ‘n Belangrike Man nie, maar deel van die kwekery en ons koop toe ook ‘n Verimark Franchise. As kleinhandel besigheids-eienaar, voel jy teen Januarie of jy nie meer uit die bed wil klim in die oggend nie, wat nog te sê om jou liggaam moeisaam deur die dag sleep. Ek het een goeie dag net opgestaan en twee vliegkaartjies bespreek Kaap toe vir die naweek, sonder enige planne van hoe en waarheen. John wou nog prakties wees en ‘n ordentlike vakansie reël, maar ek het bloot gesê die kaartjies is gekoop, alles is gereël, ons vlieg en klaar.

Van die lughawe af het ons kuslangs gery met Clarence Drive, deur Bettiesbaai. Op daardie stadium het nie een van ons hierdie gedeelte van die Wes-Kaap geken nie. In Kleinmond aangekom, het ek vir John gevra om bietjie deur die woongebied te ry, dit het na ‘n lekker dorpie gevoel, so tussen die berg en die see. Ek onthou die gevoel in my hart toe ek vir hom gesê het, “Hier sal ons lekker kan fietsry, kom ons kom bly hier.” Inskiklike mens wat hy is, het hy dadelik ingewillig, maar bloot omdat hy soos gewoonlik nie mooi geluister het wat ek sê nie. Hy het gedink die bedoeling is dat ons die aand in Kleinmond oorbly, in plaas van verder ry soos beplan.

Nadat ons blyplek vir die aand gekry het, wou ek gaan kyk na huispryse. Ons het by die naaste eiendomsagent – die Oranje een nogal! –  na ‘n muur vol foto’s gekyk, en John het sy vinger spontaan op een foto gedruk en gesê hy hou van dáárdie een. Die agent wou nie byt aan ons navrae nie en gereken dat die plek te verwaarloos is en dat hy ons beter huise in dieselfde prysklas kon wys. Kleinmond is egter ‘n klein dorpie en ons het die huis self gaan soek. ‘n Teensinnige vrou het ons storie aangehoor en ons binnegelaat om net baie vlugtig die huis te bekyk.

Ons was onmiddellik albei verlief op die verflenterde huis en het teruggery na die eiendomsagent en ‘n aanbod om te koop gaan teken, onderhewig aan die verkoop van ons besigheid binne sestig dae. Twee dae later het ons teruggevlieg Johannesburg toe en die besigheid die volgende oggend voor werk verkoop. Net so. Alles het soos ‘n legkaart in plek geskuif.

So het ons status van sakemense in die stad oornag verander na vroeg-afgetree-by-die-see, by ‘n plek wat ons hoegenaamd nie geken het nie. Intussen het ons natuurlik ook ‘n lekker besigheid opgebou, wat baie goed vir ons werk.

Die belangrikste van alles, ons het nou TYD. Tyd om te doen wat vir ons lekker is, tyd om onsself te leer ken en te groei en ontwikkel. Ons het nader aan onsself en na mekaar gegroei. En dit alles het begin by ‘n vreemde man wat my op ‘n funksie op my skouer tik en iets vra. Die man met die ysblou oë. Ons lewe het daardie dag ‘n vurk gevat, wat ons gestuur het na ons tuiskoms, met ‘n lewenslange vriend.

Huis is waar jou hart is.
Hart is waar jou huis is.