Vandag sewentientien jaar gelede was dit die laaste dag wat ons in Roodepoort gewoon het. Laatmiddag toe die treklorrie weg is, het ons gou die laaste skoonmaakwerk gedoen. Ongelooflik hoe vuil so spierwit huis skielik lyk as al die meubels, potplante (ons het reuse plante gehad) en skilderye uit is. Daarna het ons die besem en mop in die bakkie gepak en geduldig vir twee ure die katte gesoek voordat ons die lang pad Kaap toe met twee karre gevat het.

Op hierdie moment  was ek alleen in my volgepakte kar met my oë stip op die twee rooi agterliggies van John se bakkie en swaargelaaide sleepwa, op pad Kaap toe, na ‘n nuwe lewe. Ek was bang vir die donker en die lang pad, maar met die twee getraumatiseerde katte kon ons nie oorslaap nie. My susters het heelpad SMS’s gestuur, net na middernag het Magda gesê ek moet mooi ry, sy gaan nou slaap. 

Dit was traumaties om ons kinders, die familie en my ouers agter te laat, en die onbekende in te vaar. Nogal sonder dat ons weet hoe ons gaan maak om geld in te bring. Om my kop besig te hou, het ek die 1415 km opgedeel in eenhede van 50 km. Dit was maar 29! So kom ek heeltyd sommetjies in my kop maak en dit het my baie gehelp. Net heeltyd John se agterliggies dopgehou. Dit was vir my makliker om hom te volg as om voor te ry. My susters het heelpad kontak gehou, tot laat in die nag opgebly om my te ondersteun.

By Leeu Gamka was ons die oggend 03:00 bitter moeg en op ‘n manier het ons mekaar verloor. My frantiese oproepe na sy selfoon, een van die eenvoudige eerste Nokias, is nie geantwoord nie. Lang storie, kat wat uitglip, en hy wat soek. Ons wat mekaar weer vind. Daar in die donker met net trokdrywers waar jy kyk, het ek besef ons twee is nou op mekaar aangewese. By die volgende Stop/Go was daar ‘n bokkie, sy ogies was vir ‘n oomblik herlder in die lig. Ek was nie seker of ek hom gesien het nie, maar John het die kode geflits met sy agterliggies en ek het geweet die bokkie was werklik. ‘n Boodskap.

Met dagbreek het ons deur die lieflike Hexrivier gery. Daardie poort was vir my simbolies van die poort na my nuwe lewe. Ons was weer vars, die lug was helder. Deur Worcester het die bruin tannies met vrolike dogtertjies kerk toe gestap. Tog snaaks watter pentjies bly in mens se kop sit. ‘n Klompie stout seuns saamgebondel het my laat dink, ek hoop nie hulle plant spykers vir verbygangers nie. Spyker of nie, you attract what you fear. By Theewaterskloofdam waar ons vir die laaste maal bene gerek het, het ons my kar se pap band gesien. Daardie Mercie was gepák! Ons moes alles uitpak om by die spaarband uit te kom. Die moegheid en lang nag en wonder het sy tol begin eis. John het op sy tande gebyt en ek wou huil. Maar wat, dit was ‘n avontuur, en ons was net ‘n uur weg van ons nuwe lewe af.

Dit was bewolk en reënerig, presies ‘n dag soos vandag. Die Overberg op sy heel, héél mooiste. Wuiwende donkergroen graanlande, wat golwe gemaak het in die wind. Die een reënboog na die ander het die skoonste, suiwerste kleure gekaats in die venster en in die reendruppels. My gemoed het opgebou, trane het oor my wange gestroom sonder dat ek huil, en my siel het ontplof. In ‘n oomblik van ekstase. Dit was onbeskryflik. Die hele lug was vol reënboë, nooit vantevore, en nooit weer sedertdien het ek so iets beleef nie. En toe was daar die absolute magiese oomblik, waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Ons het onderdeur ‘n reënboog gery, ons nuwe lewe in. Op daardie moment het ek geweet ek is besig om my sielspad te loop, dat dit goed is, en reg. En more, op 1 September, bly ons sewentien jaar hier, die langste wat ek ooit op een plek gebly het.

 

“The thing about being catapulted into a whole new life–or at least, shoved up so hard against someone else’s life that you might as well have your face pressed against their window–is that it forces you to rethink your idea of who you are. Or how you might seem to other people.”
― Jojo Moyes, Me Before You