Hierdie pragtige Wisteria wat uiteindelik te swaar geword het vir my suster Teunet se huis, het my elke jaar laat dink as ek haar mooi foto’s sien – behalwe vir ons bobbejaantjies wat in die berg gevang is, stertjies afgekap is, in die seeppot in kookwater gegooi in en toe skoongeskraap is, is ‘n Wisteria en Bougainvillea die enigste ding waaroor my ma vir ons gejok het.

Daar was ‘n pragtige Bloureën soos ons dit geken het, wat ‘n dak gevorm het op die agterstoep. Aan die anderkant van die huis is ‘n donkerpers Bougainvillea só gevorm om ‘n groot kuierplek te vorm as die familie kom kuier het.

Heerlik koel en mooi daarby. Dan het ons al die kombuis stoele en ‘draadstoele’ (daardie wittes met die ronde ring gesweis) uitgedra soontoe en in ‘n kring gepak, vir die grootmense natuurlik. Ons moes tee maak en gaan speel. Ek was altyd doodbang ons gaan nie ‘n slang sien wat in die takke skuil nie en my ma het ons altyd gerusgestel: Daar is twee soorte plante waarin ‘n slang nooit kom nie, ‘n Bloureën en ‘n Bougainvillea.

Ek het dit vir die waarheid vir my kinders vertel toe ek een goeie dag my eie Bougainvillea snoei… En tóé eers het die besef deurgedring toe die lang, dun slang elegant oor die tak drapeer lê …

I am relieved. May I now have the truth?
– Georgette Heyer, These Old Shades

Advertisements