As kinders is ons geleer daar is drie goed waaroor jy nie praat nie. Seks, Godsdiens en Politiek.

Nee, ek jok! Dit was net twee. Politiek en Godsdiens. Toe was Seks nog in totaliteit doodgeswyg. En politiek was maklik, want daar was net twee partye, die Natte en die Sappe.

Dis vreemd hoe sulke goed by ons bly as die waarheid, dat ons nie daaroor moet praat nie. Dis waarom ek hou van lekker gesprek daaroor, waar elke een kan verduidelik hoe hy voel. Uit een so ‘n gesprek, het ek vanoggend besef: Dis van stilbly oor die Groot 3, seks, geloof en politiek, wat die wêreld so deurmekaar is en wat mense mekaar steeds uitmoor, juis oor daardie drie goed. (En oor geld.) Dit is juis daardie goed wat nie ‘n goeie track record in die lewe het nie. As dit gewérk het om stil te bly daaroor, het ek nóú gesjarrap. Net soos die gebiddery en dankseggery vir reën, as dit gewerk het, was die Karoo lowergroen en ek ook op my knieë.

As mens heeltyd stilbly, voel dit vir my bietjie oneerlik, asof daar heeltyd ‘n paar olifante in die kamer stap wat mens moet ignoreer. Ek het ook vanoggend gedink, as die drie wat so stry om een tafel gaan sit, hou hulle nooit op praat nie en ek sal nie ‘n woord inkry nie. Ek ken al drie goed, dis intelligente mense wat gedurig selfondersoek doen. Ek kry wel mense jammer wat hulle eie gedrag en motiewe nooit bevraagteken en selfondersoek doen nie, en dan paniekbevange voortneuk en alles wat hulle mee geïndoktrineer is sedert kindsbeen, verdedig met hand en tand – dis hulle wat ek jammer kry.

So deur ‘n gepraat en geploeg en gestry, word mense dan die beste weergawe van hulself wat op die oomblik moontlik is. En hoe neem mens iemand dán kwalik vir wie hy is? So gesels daaroor en dink, stry as dit moet, ondersoek jouself, jou denke, motiewe en gedrag. Pas aan. Groei. Lees. Leer.

My neef se geploegde land van ‘n paar jaar gelede, laat my vanoggend oor hierdie dinge dink. As jy jou dae vul met mense wat die lied in jou stem kan hoor; sal die dinge wat jou vreugde gee vir ander ook betekenisvol kan wees. Al praat julle nie dieselfde taal nie.

You can close your eyes to the things you do not want to see, but you cannot close your heart to the things you do not want to feel.

– Tabitha Suzuma, Forbidden