Die boek, The Book Thief sluit af met die woorde:

A last note from your narrator: I am haunted by humans.
– The Book Thief

Soms wonder ek hoeveel hierdie woorde bygedra het dat mense so negatief oor hulself en ander mense is.

Daar is elke dag meer memes wat rondgaan, oor hoe mense grappies maak oor hoe fucked up hulle is, hoe hulle ander mense haat, hoe hulle nie sosiale kontak wil hê nie, hoe hulle op eilande wil gaan bly, hoe hulle selfone en veral Facebook haat. Alles op einste toestelle wat hulle haat, op die platform wat hulle haat woord hierdie goed in strome gedeel met die mense met wie hulle nie kontak wil hê nie. Nou hoe nou?

Wel, as jy aanhou om vir jouself te vertel hoe fucked up jy en jou omgewing is, gaan jy dit sonder twyfel regkry om as ‘n fucked up persoon in ‘n fucked up lewe te funksioneer, met fucked up toestelle in jou hand.

Mense maak ook sulke grappe met ‘n negatiewe strekking oor ouer word. Doen so voort en jy word daardie einste oumens, want jy vertel dit vir jouself.

Ek sien darem deesdae al hoe minder mense grappies maak van “Gee my ‘n Grandpa” as hulle gefrustreerd of iets is, of wil sê jy maak my klaar. My oorlee vriend Ray was sio lief om dit te sê. Nou as jy al ooit gesien het hoe lyk iemand wat aan Grandpa’s verslaaf is, en hoe daardie mense se binnegoed opgevreet word totdat dit aan hulle buitekante wys, sal jy jou wraggies weerhou van sulke grappies. As mense lank genoeg iets hoor word dit mos ‘waar’. Netnou begin kinders dink dis cool om Grandpa’s te sluk. Of het mense begin dink daaroor?

Daarmee sê ek glad nie daar is nie ‘n plek vir humor nie, inteendeel! Daar is niks so afrodisiaties soos goeie humor en ironie nie.

Net so is daardie oordrewe cliché-ish positiwiteit en affirmations uit The Secret se dae net so erg. Jou arme brein hoor heeltyd hierdie “positiewe” goed, en arme jy leef in ‘n doodgewone wêreld soos ons almal, met goed en sleg en alles tussenin. Op ‘n dag besef jy jou lewe steek maar sleg af teen al hierdie positiewe goed en dan is jy in ‘n donker dal.

Onthou jou brein is gemaak om te glo wat hy hoor, jou brein self kan nie onderskei nie. Dis jyself as bewustelike mens wat moet onderskei tussen die inligting wat jy jou brein voer. Dié is maar net ‘n orgaan, wat opdragte uitvoer. Wees realisties, wees nugter. En dink! Balans is alles…

“The soul becomes dyed with the colour of its thoughts.”
― Marcus Aurelius, Meditations