“Maar hulle gaan net daar slaap!”

Wat het hierdie woorde, Fred Mouton, Bun Booyens en Tribal Echo met mekaar te doen? Alles – As jy soos ek probeer orde en struktuur skep van die warboel in jou kop teen die einde van die jaar, voordat ons die illusie van die Reset knoppie kan druk om volgende jaar weer voor te begin.

“Maar hulle gaan net daar slaap!” Hierdie woorde hoor ek dikwels as mense van die dorp vir hulle kinders of ander familie plek soek, in die besigste tye, en dan boonop afslag wil hê omdat die mense net in ons gastehuis gaan slááp, verder gaan hulle mos heeldag by hulle kuier en daar eet. Maar hoe kry ons die plek ingerig vir gaste, wat is die onderhoud en bedryfskoste, sodat hulle net kan slááp?

So sien ek onlangs iemand kla oor die koste van vyf steke wat haar kind moes kry na ‘n val, sy reken: wat kan die paar stekies dan nou kos? Dit sou asem mors wees om te verduidelik van dokters se opleiding, hospitale se toerusting en bedryfskostes.

Gesprekke met kunstenaars en skrywers laat my altyd lekker voel, hulle kreatiewe energie vryf af op my en laat my lig voel. So was dit onlangs toe vriend Frazer en sy seuntjie verbyry op hulle fietse en eers by ons indraai vir koffie. Nou mense sien hulle internasionale sukses as Tribal Echo en ook hulle suksesvolle produksies op die verhoog en feeste en die toekennings wat hulle deesdae inryg, maar hulle sien ‘n liedjie, of ‘n produksie. Hulle sien nie 20 jaar se beplanning, laat nagte, harde werk en swoeg en sweet nie.

In vandag se Die Burger is ‘n lieflike artikel oor die spotprentkunstenaar, soos deur Bun Booyens aan Murray La Vita vertel. ons sien net die spotprent, en bewonder die man se insig en skerp kyk, maar ek het vandag verstom gelees hoeveel beplanning nodig is.

“Bedoelende, as jy gaan kyk hoeveel items daar op ’n bepaalde dag in ’n koerant is: Dis ’n gekibbel hier, ’n geveg daar, ’n huwelik, ’n egskeiding, ’n geslanery in die parlement. En dan kan jy net één ding teken van daai honderd goed.”

Dit is ‘n wonderlike klein sleutelgat waardeur jy kyk en sê: Dít is iets . . . ons sou dit nie geteken het as die gemiddelde leser van Die Burger nie geweet het presiés waaroor dit gaan nie.

Soms help dit om ‘n bietjie dieper te kyk, te dink, daar wag dalk ‘n verrassing as jy sien wat iets werklik verg. Anderkant die horison wag dalk ‘n groot verrassing.

Ons ken almal die enorme ysberg wat in die see dryf, wat net sy punt wys. Die lewe is net so.