Ek was my hele lewe lank ‘n vaal muis. Vaalmuis. My pa het so gesê, en ek het hom geglo. Ek is oortuig hy het nie lelik bedoel nie, maar ek het hom geglo dat ek muisvaal hare het, en my lewe lank probeer om dit mooi ligbruin te kleur. Soms rooier, dikwels blonder, dan ge-highlight en dan weer ge-lowlight, afhangend wat “voorgeskryf” is. As die gier dit vereis, geperm in ‘n bossiekop, maar altyd gekleur.

My vlegseltjies met die groot lintstrikke is afgeknip toe ek skool toe is en verder het ek nog altyd kort hare gehad, behalwe eenmaal in standerd vier het ek dit laat groei, totdat ek ‘n lekker poniestert kon maak. Die poniestert was nie omdat ek lang hare wou hê nie, ek was bloot ontevrede met die styl wat my pa my hare geknip het. Ons water op die plaas was lekker brak, en ons moes reënwater uit die tenk met ‘n emmertjie aandra en op die koolstoof warm maak om hare te was, so die poniestert is kort voor lank weer afgeknip. My ontevredenheid met die reguit kuif en kort, reguit haarstyl wat eers jare later die bob genoem is, het veroorsaak dat ek van standerd agt af my eie hare gesny het.

As ek so terugkyk na foto’s oor die jare, was my eie poging soos hierdie een in matriek, glad nie slegter as wat die deursnee haarkapper dit gesny het nie.

My hare was maar altyd half wederstewig, nie mooi krulle nie, maar ook nie mooi glad nie. Tóg het ek altyd lang, blinkgladde ligbruin hare begeer. Net toe ek gereed is om weer te groei, toe trou ek met ‘n man wat reken “ouer vroue” lyk verspot met lang hare. Ek was 33. En toe glo ek hom. En laat toe dat ek in my kop ‘n muisvaal ouer vrou word, wat kort kapsels blonde strepe maak en rooi maak en alles tussenin, om tog ook soos ander mooi, jong vroue te lyk en nie ‘n muisvaal ouer vrou nie.

Die keerpunt het eers gekom iewers in my vyftigs, toe ek besef haarkleursel en die seelug is nie ‘n goeie kombinassie nie, en ek het ophou kleur. Wat gebeur toe? Toe vra vroue my watter kleursel gebruik ek, hulle wil dieselfde kleur hê. En wie doen my highlights? Dis toe dat ek besef, ek probeer my lewe lank om my hare te kleur, presies soos wat dit van nature lyk – ligbruin met natuurlike ligstrepe in die somer.

“I do wonder why people hate their grey hair so much! I think grey hair is a gift from the moon! When the moon laughs, her eyes produce tears of joy that fall to the earth and onto the tops of people’s heads!”
― C. JoyBell C

Iewers het die begeerte na lang hare gebly en verlede jaar het ek besluit ek wil net eenmaal in my lewe voel hoe voel lang hare. My eie kleur hare, grys of te not. Ek wou voel hoe swiep ‘n poniestert as ek om ‘n paal swaai. Ek het, en dit was goed. Maar nou is dit klaar.

Gryskop, kortkop, hier kom ek!

“Sail on, Silver Girl, sail on by. Your time has come to shine …”

(Paul Simon/Bridge over Troubled Water)