In 2013 het iemand my gebel en verskoning gevra vir ‘n insident wat in 1975 gebeur het, toe hy hom onnodig vir my gewip het. In 1997 het hy ‘n NDE gehad, en in die tyd wat hy ‘dood’ was, het hy ‘n boodskap gekry dat hy moet regmaak met my daaroor. Die insident was so onbenullig dat ek dit aanvanklik glad nie onthou het nie, maar toe hy by die detail kom van wat ons geëet het daartydens, het ek weer onthou. Vir jare na die NDE het dit hom gepla en selfs ‘n invloed gehad op sy idee oor sterflikheid en die dood, en jare later kon ons saam lag daaroor, dat so ‘n onnodige gatwippery omdat ek sê hy kan sy eie koffie maak, tussen lewe en dood kan staan. Tussen 2013 en ‘n maand gelede, het ons gereeld gesels en met elke gesprek het hy dit opgehaal hoe ek hom van die poorte weggehou het.

Daardie iemand was my swaer Piet, ek was met sy ouboet getroud. Ons is ook dubbele skoonfamilie, want my suster is met ‘n ander broer getroud. So was Piet maar altyd deel van familiebyeenkomste. Hy was lief vir al ons susters en ook ons kinders, maar veral vir my ma, wat hy ook aangeneem het as sy eie ma nadat syne ‘n paar jaar gelede oorlede is.

Ek het hom leer ken as ‘n astrante jong man, met ‘n lekker humeurtjie, maar ‘n hart van goud en ‘n dawerende lag as hy jou siel uittrek. Ek het saam met hom sy eerste liefde beleef, saam as jongmense in sy rooi Volksie gery wat hy een goeie dag op ‘n grondpad gerol het. Daarna het ek ook sy liefde vir Annatjie meegemaak, ook hulle huwelik en vier kinders sien grootword. Die lewe gebeur, en ons het vir Lynette as sy nuwe vrou leer ken en liefkry. Hy het gerook soos ‘n skoorsteen, gevloek soos ‘n matroos en baie suiker in sy koffie geroer, en hoor was min.

Vandat ek hom ken, het hy elke jaar op 24 Februarie as hy verjaar die grappie gemaak dat ons nou weer ewe oud is en nou kan ek nie meer rangtrek op hom nie. (ek is vier maande ouer as hy)

My ma was bitter lief vir Piet en het hom as haar eie seun gesien. Dis baie min dat sy so naderleun aan enige persoon, maar ek kan net dink watse onheilighede het hy weer vir haar vertel wat haar so laat lag, want my ma is ook nie van nature uitbundig nie. ‘n Mens kan die band tussen hulle sien en voel.

Piet, ek kon jou nie eergister weer van die poorte weghou nie, hierdie keer moes jy deurstap. Daar is darem nie meer ou koeie in die slote nie, ons het hulle almal uitgesels, as jy bel het ek my battery pap gepraat. Mag die engele wat jou oppas groot sakkke suiker onder hulle vlerke dra vir jou eindelose koppies koffie.

Maar soos my suster Kobie sê: Ek hoor hom eintlik sê ons klomp Petoorse moet nou ophou huil. Sy pyn is nou oor. En dan lag hy te lekker oor ons vies is oor Petoors …

Death Is Nothing At All

Death is nothing at all.
It does not count.
I have only slipped away into the next room.
Nothing has happened.

Everything remains exactly as it was.
I am I, and you are you,
and the old life that we lived so fondly together is untouched, unchanged.
Whatever we were to each other, that we are still.

Call me by the old familiar name.
Speak of me in the easy way which you always used.
Put no difference into your tone.
Wear no forced air of solemnity or sorrow.

Laugh as we always laughed at the little jokes that we enjoyed together.
Play, smile, think of me, pray for me.
Let my name be ever the household word that it always was.
Let it be spoken without an effort, without the ghost of a shadow upon it.

Life means all that it ever meant.
It is the same as it ever was.
There is absolute and unbroken continuity.
What is this death but a negligible accident?

Why should I be out of mind because I am out of sight?
I am but waiting for you, for an interval,
somewhere very near,
just round the corner
.

All is well.
Nothing is hurt; nothing is lost.
One brief moment and all will be as it was before.
How we shall laugh at the trouble of parting when we meet again!

(Henry Scott-Holland)