Vir meer as ‘n week na my ma se dood, het ek elke oggend met angs in my hart wakker geword. Lewe my ma nog? Is sy dalk dood en niemand het my gebel nie? Is sy dalk dood en iemand het wél gebel en ek het nie die foon gehoor nie? Het iemand ‘n WhatsApp gestuur? Kry sy nog asem? Het sy pyn? Leef sy nog?

Dan onthou ek – sy is nou dood. Al vir twee dae, drie dae, vier dae, ses dae, agt dae.

Nóú, na 13 dae het dit beter geword. Vandag was die tweede dag wat ek gewoonweg wakker geword het, sonder die angs wat my maag hol laat voel en my arms laat prik, te bang om my oë oop te maak. Ek het selfs gedroom van haar. Sy was mooi en jonk, en het meer gelag as wat ek kan onthou en het vir my die heerlikste kospakkies skool toe ingepak. Dit was ‘n mooi droom en ek het met ‘n rustigheid en ‘n glimlag wakker geword.

Vir twee maande het sy erg gely en het almal naby haar gebid vir verlossing. Toe die verlossing kom, was dit ‘n groter skok as waarop ek voorbereid was. Ek het gedink ek sou dankbaar wees, bly vir haar, maar tóé het dit ‘n rou gat in my lyf gelos, ‘n bloederige, seer leemte. Dit het vinnig genees, want ek is sterk, ek is my ma se kind.

In die tyd van inperking weens Corona, was ek danksy tegnologie, bevoorreg om haar begrafnis op Facebook Live te kon meemaak. Ek het deel gevoel van al die reëlings, WhatsApp het dit net alles soveel makliker gemaak. Ek wou nie enige huldeblyk op haar begrafnis laat voorlees nie, ek kon haar in Maart, net voor die inperking, gaan groet toe die dokters laat weet het sy is sterwend. Toe kon ek met my eie asem vir haar dankie sê vir haar inspirasie, en presies hoe sy my gehelp het om te wees wie ek is, om te bereik dit wat wel binne my vermoë was. En steeds is. Danksy haar voorbeeld kan ek ook in my middeljare steeds doen wat ek kan, met wat ek het.

My lewe is vol klein, simboliese ritueeltjies, al my lewe lank. Dit help my om die lewe se uitdagings te hanteer. Hierdie sagte toffies het ek in Maart vir my ma gevat, dis al wat sy wou hê ek moes saambring. Sy kon dit nie meer eet nie en ek het ‘n paar teruggebring, om my aan haar te herinner. Ek het dit gebêre in hierdie mooi houtkassie wat Teunet Kuun vir my gemaak het. Ek het dit op 29 Mei geëet, terwyl ek saam met honderde ander toestelle uit ‘n hele klomp lande op haar begrafnis ingeskakel was. Dit was wonderlik om te sien hoe vriende en familie van oral inskakel, ook mense uit ons kinderjare met wie ek nie meer kontak het nie. My ma was ‘n geliefde vrou.

Om hieroor te skryf, help. Om hierdie tipe ritueeltjies te doen, help. Om die lappie wat sy vir my geverf het te gebruik, help. Om soos ‘n besetene te werk aan ‘n nuwe projek, help. Mens moet noodwendig rou. Maar ék lewe nog en net soos wat ons die inperking en die Covid-19 pandemie hanteer, doen ek dit op ‘n manier wat net vir myself sin maak. My hartseer oor my ma hou ek vir myself, my woorde oor die hantering daarvan kan ek deel.

Ek is só bly ek het nie al my ma se talente en ywer geërf nie. Sy was wat jy noem ‘n voorvatvrou, wat tot op 80 vir die aftreeoord se kermis wat sy georganiseer het (en hope koekies en beskuit voor gebak het) voorgevat het. Sy het geweet hoe om vla vir 300 mense te maak en haar pannekoekresep wat in emmers aangemaak is, was onfeilbaar. Kleremaak, brei, spensrakke vol konfyt en ingelegde vrugte – noem dit. Gelukkig het ek haar liefde vir lees gekry – so ter ere van my ma wat deur soveel mense bewonder word, gaan ek nou bietjie lê met ‘n boek….

“Weet net dat sy diep spore getrap het in baie mense se lewens en dat ek as vêrlangse familielid kan sien hoe julle almal haar lewe voortsit en ‘n stukkie van haar in julle saamdra. Elkeen van julle is deur julle voorbeeld en julle lewens ‘n getuienis van die mens wat sy was!”
– Linda Farrel