Regtig?

Regtig nou! Waar kom hierdie ding vandaan dat ons soveel energie spandeer om vir die wêreld te wys dat ons oukei is?

Ons is mos sterk vroue, ons voorsate is immers “kaalvoet” die Drakensberge oor. En manne is mos manne, groot en veral sterk. Ons steek ons trane weg, ons wys nie ons seer nie. En dit breek ons. Tog dra dit ons ook deur moeilike tye.

Soms word ek kwaad omdat ons ouers en voorouers alles so onder die mat ingevee het. Die familieskandes van ‘n egskeiding of ‘n buitehuwelikse verhouding of swangerskap, het ons voorsate geheim gehou en weggepraat. Maar doen ons nie op ‘n manier dieselfde nie, as ons heeltyd voorgee dat als voor die wind gaan, as dit nie is nie?

Tydens hierdie inperking dra ons maskers, ons steek ons gesigte weg, maar op Facebook dra ons ons harte op die mou. Mense gooi oop, hulle word kwaad, hulle kla!

Dalk is dit goed om vir ‘n slag te kan sê hoe dit is, om op te hou voorgee dat alles oukei is, om op te hou om aan valse hoop te klou. Miskien moet ons wakker word, die realiteite van ons lewe nóú tussen die tande vat en skud, dat ons dit wat nou op ons tafels is, kan vat en dit hanteer. Volstruis-speel help net vir kort rukkies, vir oorlewing.

Met al die uitdagings rondom 2020 se inperking, het dit menswees ontbloot tot op die been. En dit is goed so.

I became good at pretending. I became so good that after a while the lines blurred between my truth and fiction. And sometimes, when I did a really good job of pretending, I even fooled myself.

– Ruta Sepetys, Salt to the Sea