Hoe weet mens jy het Covid-19? Jy wéét. Jy is te siek om tot by die badkamer te kom, wat nog by ‘n dokter.

Corona marsjeer bloot soos ‘n swerm kommandowurms deur jou lyf en loop waar hy wil. Ongeag. Vreet jou van binne af op en spoeg uit. Verteer jou. Tot hy moeg is, voel jy hom lewe in jou lyf en in jou selle. Dis anders as enige iets anders wat jou ooit makeer het.

Die pyn, die pyn. Pyn is ondraaglik en reageer op geen pynpil nie. Hoofpyn, nekpyn, lyfpyn. Jy kan nie roer nie. Alles pyn net.

Die ongelooflike moegheid. Jy kan nie ‘n elektriese tandeborsel stilhou nie. Toe hy uit beheer ruk en ‘n koorsblaar stukkend slaan dat bloederige tandepastadruppels oral sit, wou ek huil van magteloosheid, maar was te moeg om te huil. Jy is te moeg om te praat of te kou om te stort.

Die kouekoors. Jou lyf ruk onbeheersd, jou tande kletter en jy ruk van die koue. Niks maak jou warm nie tot die koors jou vat. Dan gloei jy en brand als weg naby jou.

Jou spoeg is taai. Jou mond plak vas al staan hier heeltyd ‘n glas met yswater. Jy is te moeg om ‘n ysie te suig, maar jy kan sluk.

Goed ruik en proe vreemd. Aarbeie proe na bitterige water met tekstuur, maar ek bly dit crave! Nartjies proe heerlik intens nartjierig sonder enige suur, maar is moeite om te kou. Gemmer in my tee proe skurf en sleg, maar laat my beter asemhaal. En dit ruik al ‘n week lank of iemand langs my lê en rook, mens ruik dit hoog bo in jou neus. My man verseker my hier is nie eers ‘n rookreuk van die bure af nie.

Ek het elke boksie getick vir Covid-19. Ook hartkloppings en pols van so 105. Droë hol hoese. My longe het skoon gebly met die stropie wat vorm van ‘n opgekapte ui en bruinsuiker. Dan gee jy twee hoese en skoon is jou longe. Slym bou nie op waar daai virus jou kan opvreet nie. En as jy asem het kan jy fight. My kop het hom gefight, met elke asem en elke klop. Meditasie het gehelp om hartklop te beheer en onder 100 te kry. Ure se meditasie, tussen slaap en wakker, waar jy jou hartklop wíl. Ghloep, ghloep, ghloep sonder weghol. Ritmies. Stadig.

Ek is goed versorg, ek kry medisyne, vloeistowwe en sagte babakossies. My suurstofsaturasie was nooit onder 96 nie. Ek word nou vinnig beter. Ek het al minder pynpille nodig. My pie lyk nie meer soos Coke nie. Ek kan kleuterkos eet pleks van babakos. Wens net die sterker wil bykom.

So waar het ek aangesteek? Ons was, ons mask, ons sanitize, ons social distance. So nee, ek weet ook nie. Koeriers dalk?

Jy is te moeg om te eet. Jy kan nie kou nie, dit is te moeilik. Klein bakkies sagte babakossies is al wat werk. Jellie gemaak van bessiesap en gelatien. Gestoofde vrugte. Oats met heuning. Sop. Sagte gesnyde vrugte. Roomys.

Mens is nooit te gesond vir ‘n bakkie sop en nooit te siek vir ‘n bakkie roomys nie.

Covid-19 – Die Stil Siekte. Mense praat nie daaroor nie. Hoekom nie?

As jy vermoed jy het Covid-19, sal jy laat toets? Ek het nie, ek het wel my GP ingelig vir ingeval. Ek het met soveel van my naastes gesien, GP sê dis ongetwyfeld Covid-19 en dan toets hulle negatief. Dan sê die verslag hulle moet buitendien isoleer as hulle simptome het. So wat is dan die doel van toetsing? As dit positief is, weet jy mos jy is siek en jy isoleer.

So more is die 10 dae om wat my GP gesê het isoleer. Ek is beter en noudat ons dan uit kwarantyntyd is – Dis hoe dit vir my was. Let wel, my eie persoonlike belewenis en nie hoe ander dit mag ervaar, of enige mediese raad nie. Moenie ander aan my meet nie. Party mense word baie sieker as dit. Ander dalk minder so. Ek vaar mos gemiddeld met als, selfs met siekte!

The art of medicine consists of amusing the patient while nature cures the disease.”
― Voltaire