Covid-19. Die stil siekte. Die siekte waaroor almal praat, behalwe die wat hom het. Dis besmetlik, en jy is nou self besmetlik, daarom bly jy maar stil. Jy vermy mense, lank nadat jy hulle kon aansteek, want jy voel hom nog in jou lyf. Die siekte wat jy kan voel, maar nie kan sien nie. Jy hoor hom in die hol, droë hoese wat uit jou longe skeur ja, maar jy sien hom nie.

Of nee, jyself sien hom tóg. Jy sien hom in jou oë as jy in die spieël kyk soggens. Jy het steeds ‘n tipe conjunctivitis waarvoor geen oogsalf of oogduppel help nie, heeltemal anders as enige iets anders ooit. Hy is net-net daar. Jy sien hom in jou brilglase wat jy aanmekaar tevergeefs skoonmaak, want die Vaseline is oor jou oogballe gesmeer, nie oor jou brilglase nie. Jy sien hom ook in die nuwe plooie wat jy bygekry het omdat jy gewig verloor het en die blou kringe om jou oë. Jy sien hom in jou een voet se tone wat soms heeldag bloedrooi bly.

Ek sien dit in die koorsblaar op my lip wat aanhou om te brand, al is hy nou skaars sigbaar. L-Lysine hou dit in toom, hy laat weet maar net vir my daar woel iets in my lyf wat reken hy is sterker as ek.

Jyself hoor hom ook. Jy hoor hom in jou ore wat skielik ekstra sensitief is vir geluide en vir drukking. As jy jou neus blaas, pyn jou ore. Jou neus blaas nie meer bloederig nie, alles is nou weer “reg”. Want jy is nou “gesond”, daarom kla jy nie meer nie.

Al jou eie sintuie is betrokke. Jy ruik hom ook – jy ruik soms nog die rook wat niemand anders ruik nie. Jy ruik iets soos rooiaas wat drie dae in die son gelê het. Gelukkig is daar soms ook vanilla in die lug wat jy nie self spuit of mee bak nie. Die lekkerste is dat aarbeie weer soos aarbeie smaak. My lyf crave aarbeie en gelukkig is dit nou seisoen. Kos smaak oor die algemeen weer soos kos, maar soms proe ek skielik nie sout nie, of ‘n gereg waaraan my man smul, proe totaal smaakloos ten spyte van die knoffel, gemmer, chillies en so aan. Gelukkig hou dit nou net kort rukkies so aan. Ek is nog steeds nie juis lus vir vleis nie en die oxtail wat ek more vir gaste wil kook laat my gril.

Die pyn is nie meer so erg nie, die gewrigspyne is nou net-net so dat jy dit voel as jy loop. Die pyn in jou sy voel jy net-net en jou keel is so dat sluk nie meer seer is nie, dit is soms net moeite om te sluk. Soos wat dit soms skielik moeite is om te praat. Jou brein wil, maar jou kakebeen wil nie. Daardie onhoudbare hoofpyne is gelukkig iets van die verlede.

Is die plekke wat brand en jeuk en ‘n knop hier en ‘n kolletjie daar verwant? Of is dit maar ‘n ‘seisoenale allergie? Wie sal weet?

Ek is een van die gelukkiges. My brein het bly werk, meestal. Ek is ook baas oor my emosies en het nooit depressief gevoel nie. Soms bietjie poor-little-me, maar dan eet ek ‘n lekker bak vol roomys met raw cacao nibs op. Siek mense mag roomys kry. Mos.

Ek was ook gelukkig met my longe. Ek het getrou my blaasoefeninge bly doen en my longe is skoon, en doodgewone Borstol help vir daai droë hoes, trust me on this one.

Die een ding wat my onderkry, is die moegheid. Ek sal opstaan en kans sien vir enige iets, en halfpad in ‘n projekkie om my kabels uit te sorteer, vou ek net. Dan kry ek nie my sjampoebottel se doppie af, of die yoghurt oop nie. Hierdie lamgatgeid is die moeilikste, omdat mens sukkel om jou dag te beplan. En wanneer kan ek weer eendag oefen?

Rus, het hulle gesê. Mens rus in jou malle maai in, maar jy kom nie uitgerus nie. Slaap? Wat ‘n vreemde besigheid. Die koorsdrome het nou plek gemaak vir die vreemdste nagmerries, as ek uiteindelik aan die slaap raak. Meditasie help niks as jy voel die binnekant van jou brein begin kriewel nie. Dan droom jy terwyl jy wakker is. Ander aande weer, vou jy tienuur en slaap regdeur tot na agt en bly slaperig voel totdat jy weer tienuur die aand dankbaar jou kop neerlê vir nog tien ure se slaap.

So ja, Corona is ‘n bliksem wat jou lyf infiltreer en op elke moontlike plek gaan nesskop. Maar in my lyf, in my lyf is ék die baas en ek wen altyd. Ek het nog altyd elke probleem op my rekenaar of elders in die huis gewen, weliswaar soms na ‘n hewige gesukkel, maar ek het nog altyd gewen.

Maar nou het ek myself lus vir roomys gepraat! En ek sien daar is hierdie keer Blueberry cheesecake geur…

The art of medicine consists of amusing the patient while nature cures the disease.”
― Voltaire

Vorige skrywe oor hoe ek Covid-19 beleef het.