Daar is nou ‘n term vir iemand wat post-Covid lank sukkel met die vreemdste goed denkbaar – Lo-Co. Oftewel Long haul Covid. That’s me!

Eers was ek half skaam om te erken ek is nog nie 100% van die tyd my ou self nie. Toe lees ek al hoe meer dat daar baie ander mense is wat dieselfde ervaar. Die skrywer Helen Moffett beskryf dit beter as wat ek ooit so kon doen. So waarom skaam wees? Omdat dit so ‘n stil siekte is, dink mense jy is oukei as jy oor die ergste is. Niemand vra meer nie, behalwe die wat regtig omgee.

Siek is ek nie meer nie, maar ek het die vreemdste simptome. My krag is min, vreemd min. Dis nie asof ek meer daardie tipiese tamheid het nie, maar as die tamheid in die middel van niks slaan, sonder enige rede, dan sukkel ek om ‘n rolletjie toiletpapier om te ruil. En voor die tyd het yoga en paalfiksheid my fiks en sterk gehou. Dis nie asof ek ‘n swakkerige middeljarige was om mee te begin nie! Tog dink ek dis wat my gered het om nie so siek soos ander te word nie.

My temperatuur bly onder-normaal. Ek het in geen jare my temperatuur gemeet nie, dalk is ek maar net so koud-bloedig.

Die slaaploosheid is beter, daardie vreemde wakkerlê waar my brein soos roereier voel wat stadig omgeroer word, is nou hopelik net nog ‘n ding op die Af Dae. En dan, wanneer ek wel slaap, het ek hierdie vreemde nagmerries wat ek nog net met Covid ervaar het. Dis angswekkend, selfs gewonerige drome laat mens in geweldige angs wakker word, en dan droom jy verder, terwyl jy wakker is. Ek kry my dan op geen manier uit daardie droom gewhul nie, al staan ek op en gaan drink ‘n glas koue water. Dan bly die hartkloppings totdat daardie droom na wat voel soos ure, ophou.

Hartkloppings sonder rede het geleidelik minder geword, die borspyn ook. Dis nou nie meer noemenswaardig nie.

Dan is daar die pyn in my gebeentes wat nie weggaan nie. Partykeer is dit ‘n kol onder my een voet, dan weer my heupe. Vanaand is dit in my linkerdy. Gister was dit my een middelvinger, wat aanmekaar kramp getrek het, so ek kon nie eers vir Covid een wys nie… Dit voel letterlik soos migraine in my gebeentes. Loop is pynlik, ek kom regop soos ‘n oumens. Dit kom en gaan en dis totaal anders as gewone rumatiek wanneer ek te veel soetgoed eet. Ligamente trek styf asof dit seergekry het.

My brein pyn. Dis nie hoofpyn nie, dis nie migraine nie, dis my brein wat pyn.

My vel brand, dit voel papierdun en dit brand, soos kookwater-brand. ‘n Ou taamlik ernstige brandwond op my arm van omtrent vyf jaar terug voel of dit nou besig is om te herstel en nuwe vel nou gegroei het. So hipersensitief. Klere knyp, alles krap en brand en knyp. Mens voel na sagte, deurgewaste T-shirt materiaal wat jy net los om jou lyf wil draai.

Bloedkolletjies en rooi kolletjies verskyn en verdwyn oral. My tone bly geswel en rooierig.

Was jou hande en bly tuis!

Die oë, ai die oë. Dit water en dit brand en dit hou nie op nie. Die Vaseline wat op ‘n af dag oor my oogballe gesmeer is, laat my baie meer simpatiek teenoor werklike swaksiende mense voel. Eergister moes ek my foon se fonte yslik groot stel, anders kon ek niks sien nie. Ek loop ook heeldag en brilglase tevergeefs skoonmaak.

Het ek die oorpyn en dik keel genoem? Soms voel die ore ook toegeswel. Net soos die toegeswelde neus, sonder enige afskeiding.

Iets wat my gespaar is, is die neurologiese simptome wat sommige ander Lo-co’s ervaar, die vergeetagtigheid en sukkel om ‘n woord te vind. Dit doen ek nog my lewe lank, om te stotter en te sukkel om ‘n woord te vind, van nature… My geheue is my gespaar, ek onthou steeds meer detail van my kinders se lewe as hulle self! Daaroor is ek bitter dankbaar. My brein pyn, maar hy werk nog!

Al hierdie lastighede kom en gaan, dit slaan toe op ongerieflike tye en wanneer jy dit nie verwag nie. Daar is geen patroon, geen triggers nie. Maar statisties en in ander se oë is jy nou gesond, jy tel nou as “herstel”. Een goeie dag hoop ek om te besef: haai, ek het lanklaas ‘n Af Dag gehad.

En vandag? Vandag kon ek lekker oefen op my paal, sonder enige probleem, en ek kon my my pienk gewiggies gemaklik hanteer. Kort van asem, min van krag, maar ek kon!

Hier is twee skakels oor die onderwerp van mense wat ook vir maande lank simptome het.

https://www.buzzfeednews.com/article/nidhiprakash/covid-coronavirus-longterm-symptoms-future-of-vaccine

https://ewn.co.za/2020/10/22/haji-mohamed-dawjee-yes-i-m-talking-lo-co-again

“Although she was giddy with exhaustion, sleep was a lover who refused to be touched….”
― Janet Fitch, Paint it Black