It was the best of times, it was the worst of times. Charles Dickens het waarskynlik 2020 in gedagte gehad toe hy hierdie woorde geskryf het.

Ek het altyd 1992 as my Annus Horribilis beskou, en dit is waarskynlik steeds so. Sekerlik het 2020 sy eie uitdagings gehad, maar daar was balans en volop hoogtepunte vir my, meer as in ander jare. In 1992 was daar min balans. My twee tienerdogters se ondersteuning en volwassenheid staan wel uit as ‘n hoogtepunt.

Einde verlede jaar het ek reggesit om ons vliegkaartjies Amerika toe te bespreek, toe ek my dogter bel en vra of die datums pas, het sy gevra ons moet net eers wag dat haar sake in orde kom en sy seker is sy kan verlof kry. Dankie tog daarvoor, dit het ons baie moeite en verdriet gespaar, en as ons volgende keer gaan, werk dit beter uit, want sy verhuis na die area waarheen ons buitendien ‘n roadtrip wou doen. ‘n Bonus was ook dat die ander kinders onverwags kon kom kuier.

Net voor die lockdown het ek die voorreg gehad om my ma te gaan groet. Sy in Mei oorlede. Die moeilikste was om te sien hoe sy haar laaste weke alleen moes ly, sonder haar kinders se teenwoordigheid, al was van my susters naby. Sy is uitstekend versorg, maar hoe kan ‘n sterwende verstaan dat haar kinders skielik nie naby haar mag kom nie? Corona en Covid-19 was vir haar net woorde, sonder implikasies. Danksy tegnologie, was ek bevoorreg om haar begrafnis op Facebook Live te kon meemaak. Ek het deel gevoel van al die reëlings, WhatsApp het dit net alles soveel makliker gemaak.

Daar was absolute hoogtepunte en by my persoonlik ook laagtepunte, hartseer en blydskap. Alles was intens. Ek het hoog gevlieg en laag geswaai. En daar was dingetjies waarvoor mens nooit weer die geleentheid gaan kry nie.

Ek het hoog gevlieg en laag geswaai.

Die Hipnose kursus waaraan ek die afgelope drie jaar studeer het, het ek sukselvol voltooi. Cum laude. Ek kan nou ook CHyp agter my naam skryf. ICCHP is ‘n gerekende instansie en ek is ook geregtig om op die IHR International Hypnotherapist Register te registreer. Die eerste drie van ‘n reeks video’s wat ek beplan om mense te help om alledaagse uitdagings te oorkom, kry reeds goeie aftrek en ek het reeds versoeke vir privaatvideo’s gekry.

Twee van my direkte bure het babas gehad, vir wie ek ‘n instaan-ouma sou kon wees. Moes wees. Ek sou kon gaan handgee om die premmie te bad, of te help toe hy gesukkel het om melkies in te kry. Uit respek vir die ouers en om hulle en die baba te beskerm, moes ek my noodwendig weerhou, al was daar nie ‘n regte ouma naby nie.

‘n Hele klomp mense na aan my gaan nie saam met ons die nuwe jaar in nie. My ma, my vriend Addie, hartsvriendin van 45 jaar Elma, Gisela, my liewe swaer Piet, Christine Barkhuizen le-Roux, Kleinmonder Heston vir wie ek gehelp het om sy eie kombuisie in sy wendy in te rig, swaer Piet se skoonsus Riana Wiid wat ek ook geken het, my buurvrou Anette en ‘n paar ander mense.

Voordat ek my in die verdrietigheid inskryf, vir balans het LAPA Uitgewers hierdie jaar Oor en Weer uitgegee, wat ek saam met Analize Viljoen geskryf het. Dit was ‘n geweldige hoogtepunt vir my!

‘n Lastige knieligament het my oefenprogram gekniehalter. Letterlik. Voordat dit reg was, het Corona my in sy aaklige stekelrige kloutjies beetgekry en Covid laat my steeds les opsê. Maar daaroor het ek genoeg in hierdie twee blogs waarna ek skakel, geskryf. Dit gaan my minstens ‘n jaar neem om net weer te kom waar ek was, as ek hard en gereeld oefen. Gewewe dat die lastighede na Covid soos die hartkloppings ens nou pad vat.

Rof en gaterig, of spierwit en glad. Maar altyd in balans – soos die lewe self.

Dankie tog vir my tegniese vaardighede en my liefde vir lees! Boekemakranka het vlamgevat, en saam met Analize Viljoen het Boekemakranka baanbrekerswerk gedoen vir aanlynboekgesprekke en bekendstellings. Die inisiatief het begin toe boekbekendstellings deur die inperking geraak is. Dit was so gewild, dat ons nou voortgaan daarmee.

Whether it’s the best of times or the worst of times, it’s the only time we’ve got.

Art Buchwald

My vriend Etienne het een dag onder ‘n koelteboom in Rosebank oor ‘n koffietjie gesê: Tyd. Dis al wat ek van die lewe vra. Tyd om vry te kan wees om te doen wat ons nou hier doen. Genoeg tyd. Dis al.

Ek kla aanmekaar dat die tyd te vinnig verbygaan, maar as ek kyk wat ek die afgelope jaar gedoen het, is ek meer as tevrede. Daar was ons boek, Oor en Weer, die boekgesprekke en ook podcasts, bietjie dorpsake, meer kreatiewe skryfwerk, bietjie dit en baie dat. Toe ek hierdie lysie opdateer, toe dink ek, die vakansie wat ons hierdie jaar wou reël, het nie realiseer nie, weens omstandighede buite ons beheer. Tog het ek my tyd wyslik gebruik. Baie gelees, bietjie geskryf, baie gedink, bietjie geleer, min moeilikheid gemaak.

Dit was ‘n goeie jaar. Krismis kan maar kom. En 2021, ek is reg vir hom.

http://trisahugo.co.za

It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of light, it was the season of darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair.
Charles Dickens, A Tale of Two Cities