Melaatsheid het al so te sê uitgesterf omdat dit nou behandelbaar is, maar voorheen was daar inrigtings soos Westfort waar mense wat daaraan gely het, aangehou is.

“Die afsondering van melaatses het wêreldwyd tot laat in die twintigste eeu voortgeduur. In Suid-Afrika was die verwydering van melaatses uit die gemeenskap en hulle isolering wetlik verpligtend tot 1977. Hulle is dus inderdaad nie gehospitaliseer nie maar aangehou. Daar is na die melaatses in die inrigtings verwys as inmates” (aangehoudes of gevangenes). Net soos politieke gevangenis is aan die melaatses nommers toegeken.” Lees die volle artikel HIER.

En nou is daar Covid. Covid-19 – Die stil siekte. Die siekte waaroor almal praat, behalwe dié wat hom het. Dis besmetlik, en jy is nou self besmetlik, daarom bly jy maar stil. Jy vermy mense, lank nadat jy hulle kon aansteek, want jy voel soos ‘n uitgeworpene. Bietjie soos ek my voorstel ‘n melaatse gevoel het.

Covid-19 – Vir my was dit ‘n siekte van die sintuie. Die siekte wat jy kan voel, maar nie kan sien nie. Jy hoor hom in die hol, droë hoese wat uit jou longe skeur ja, maar jy sien hom nie. Of nee, jyself sien hom tóg. Jy sien hom in jou oë as jy in die spieël kyk soggens. Jy sien die oë van ‘n besmetlike mens. Want jy kan nou ander aansteek, jy kan nou ander se dood veroorsaak. Jyself hoor hom ook. Jy hoor hom in jou ore wat skielik ekstra sensitief is vir geluide en vir drukking. Jy ruik hom ook – jy ruik soms die rook wat niemand anders ruik nie. Jy ruik iets soos rooiaas wat drie dae in die son gelê het. Gelukkig is daar soms ook vanilla in die lug wat jy nie self spuit of mee bak nie, die reuk van varsgebakte koek wat niemand bak nie. Jy proe hom ook. Wanneer jou smaak terugkom, proe kos anders en jy eet skielik goed waaraan jy nooit jou mond gesit het nie: rou uie, gherkins en Marmite.

Die sesde sintuig, intuïsie is ook opgeskerp. Mens weet intuïtief jy moet wegbly van mense en jy doen dit ook, om hulle te beskerm. Self het ek nie omgegee dat mense weet ek was siek nie, dit is beter dat hulle weet om my te vermy.

Wat ek glad nie verstaan nie, is waarom daar so ‘n stigma kleef aan Covid. Mense wil nie erken dat hulle of hulle gesinslede dit het nie. Niemand mag weet nie. Daarom loop sommige van hierdie mense in die dorp rond, sodat niemand moet weet nie. Ander kruip weg, sodat niemand hulle sien of hoor nie. Hoe weet ek dit? Mense skryf vir my en sê dit vir my, vra raad.

As mense meer openlik daaroor is en erken dat hulle siek is, gaan minder mense by hulle aansteek en meer mense gaan waarskynlik hulp aanbied. Selfs net ‘n bietjie simpatie help, mens voel ongelooflik weerloos en emosionele bystand is net so nodig soos hulp met inkopies of iets anders. Die tyd van melaatse inrigtings is verby. Ons leef in ‘n eeu waar ons deur verantwoordelike optrede deur maskers te dra, sosiale afstand te hou en te saniteer, besmetting kan vermy. Doen die regte ding, jy sal self weet wat. Totdat entstof geredelik beskikbaar is, is ons uitgelewer aan mekaar.

Soos Alta Cloete sê: Beveg die stigma – moenie stilbly en geheim hou as jy Covid-19 kry nie. Dis ‘n siekte, nie ‘n skande nie. Elkeen wat swyg, versterk die stigma. En die stigma veroorsaak dat mense emosioneel ekstra swaarkry en ook dikwels te lank uitstel voor hul mediese hulp kry.

“Bad enough to be ill, but to feel compelled to deny the very thing that, in its worst and most active state, defines you is agony indeed.”

― Sally Brampton