Ons dorp het mos hierdie probleemkinders. In 2017 met die groot brande toe ek mense by die Spar voorkeer en vra vir kos en drinkgoed vir die brandbestryders, kom drie van die stoutes ook daar aan om te verneem wat gaan aan. Hulle check daardie trollies met eetgoed mooi uit. Ek het geduldig verduidelik die firefighters is heroes en daarom kry hulle kos en Coke. En hulle kan ook eendag heroes wees, maar dan moet hulle eers skoolgaan. Enetjie sê die kinders sê as hy by die skool kom, gaan hulle hom uitsort, daarom gaan hy nie. Met blink ogies vertel hy, hy is reg vir hulle, hy gaan hulle ‘stiek’. En uit sy flenter broeksak haal hy so klein skêrtjie uit. En hy swaai daai skêrtjie so voor my neus. Hierdie kinders is stout, maar die outjie wou ook maar net aandag en ‘n hug hê. Hulle bly klein seuntjies met ‘n hart en gevoelens en emosies, wat moet veg vir oorlewing.

Ek het dieselfde gevoel toe ‘n stout seuntjie in Doringbaai wat ek moes aanpraat omdat hy in ons gastehuis kom snuffel het, my so respekvol uitgevloek het.

‘n Inbrekertjie met respekte …

Toe ons daar aankom, was dinge half deurmekaar met die eienaar wat dorp toe is en ons kamers nie heeltemal reg nie. In die harwar van handdoeke vra en ‘n Samoa ou wat nie Engels verstaan nie wat probeer help, is daar toe twee up-to-no-good seuntjies ook tussenin. So agt, nege. Op ‘n stadium vang ek hulle in ons blyplek probeer inkom en ek jaag hulle toe. Enetjie skree toe, hy soek net ‘n tweerandjie wat dalk rondlê, maar mevrou se ma se poes dan ook! En dergelike kleurryke taal. Mevróú se ma se poes nogal. ‘n Inbrekertjie met respekte.

My suster kom sê ‘n rukkie later sy sien die twee loop met ‘n wielspanner rond en ons worrie toe nou oor ons kar. Skaars ‘n halfuur later kom die Samoa en sy vroutjie daar aan en sê die kinders het ingebreek by hulle stoor maar die polisie het hulle kom inlaai om huis toe te vat.

En toe. Toe kom die polisie verby, met daardie tweetjies op die agtersitplek. Die absolute gelatenheid op die gesiggies wys hulle ken daardie sitplek. En die polisieman stop om verskoning te vra vir die insident en sê: “Ons is absoluut moedeloos, die enetjie is nie reg in sy kop nie en die ander een net fokken stout”. My hart was so seer, die polisieman was vol deernis en het gesê hulle omstandighede tuis is droewig van al die drank.

En toe hulle so wegtrek, toe wil ek my oë uit my kop tjank oor die kinders. Oor waarheen hulle teruggevat word. Van bang dat die ouers hulle gaan slaan. En omdat ek nie vir hulle eerder kos en vrugte gegee het nie maar hulle gejaag het.

As hulle vandag alle drank sou verbied tydens en selfs na die Covid-19 pandemie, sal ek dit met liefde opgee as ek weet dat dit hierdie kinders se huislike omstandighede kan verbeter.

Doringbaai