Elke keer as ek my tande so wegsink in ‘n suurdeegbroodjie dat die tandmerke so in die plaasbotter bly sit, dink ek hoe ek my as kind geskaam het hiervoor. Die ander kinders het lekker sagte spierwit brood met rooi konfyt uit ‘n blik gekry. En óns moes tuisgekookte appelkooskonfyt op suurdeegbrood met harde korsies eet. Of gemaalde kaiings! Ek het my doodgeskaam vir die gesonde koringkleur van stoneground meel wat ons self by Wenholdt se meule gaan koop het.

Daarom het ek nie brood skool toe gevat nie. Die brood en eier van die ontbyt, waaroor ek my óók geskaam het as ek hoor van die ander kinders se Post Toasties, het my vol gehou tot die gekookte ete na skool. En ek moes sit tót ek my boontjies geëet het!

Daarna kon ek tuisgebakte koekies eet soveel ek wou… ‘n Keuse uit verskillende geelgeverfde lampolieblikke. Of van die koek met die klapper en Post Toastielaag, wat bros gebak bo-op die koek ‘n soet laag gevorm het. Ander kinders het lekker Bakers gemengde koekies uit ‘n pakkie gekry. Ons nie, en Post Toasties is nie kos nie.

Ons was dalk arm, maar hierdie is ‘n skatryk nalatenskap.

There are so many more important things to worry about than how you’re perceived by strangers.

– Dennis Lehane