Wat is droom en wat is realiteit? Waar lê die grense tussen werklikheid en illusie? Hoe skakel slaap lewe en dood by mekaar in? Hierdie is kwessies waaraan ons geraak het tydens ‘n Boekemakranka gesprek met die kliniese sielkundige, Jorgan Harris, oor sy digbundel, Droom binne ‘n droom.

Dis is daarom ook geen wonder dat dit so smokkel met my kop in my drome nie. Gisteraand was my droom so veelvlakkig dat ek vanoggend sukkel om te ontrafel waar dit afgespeel het. En wanneer.

Daar was ‘n beskrywing van ‘n geleentheid in baie dik boek, wat ek nou woordeliks kan herroep. Die lys name wat bywoon, moet mens van agter af vorentoe lees, en begin/eindig by ‘n paar akteurs en mense wat aan my bekend is. Eers Ian Roberts, dan Johan Bakkes, Bertus van Niekerk wat vorentoe skip in die tou, en Steph Bredenhann. Die res was aan my onbekend, maar almal groot ouens, rowwerig. En hulle het voor gestap, die terrein oopgebreek vir ons wat later/vroeër op die lys was.

Dan is daar ‘n tydsprong terug in tyd en ek woon die geleentheid by. Dan verder terug in tyd en ek woon in ‘n klein koshuiskamer, waar ek regmaak daarvoor. Dit was asof ek die droom in reverse droom.

Die geleentheid self was vreemd, aangesien ons weier om aan ‘n tafel sit waar die man langs my ‘n fetish met sy vrou se hare uitleef bokant my bord en hy woedend word toe ons ons borde wegskuif.

John gaan soek toe ‘n ander tafel met twee leë sitplekke, en hulle maak onwillig plek en Hermien de Vos draai haar rug en loop.

Dit alles klink dalk soos ‘n gewone droom. Die verskil is, ek was helder wakker. Ek het ‘n vivid droom gehad, maar terwyl ek wakker is. Ek weet ook ek was wakker en het frustrasie ervaar, omdat so ‘n vivid droom manipuleerbaar is, maar nie na my sin wou verloop nie. Een wat ek wou mamipuleer, maar nie kon nie.

So waar was ek dan? In hede, verlede, realiteit, droomwêreld? Watter dele van my wakker lewe is dalk op dieselfde manier ‘n illusie?

Die droom het gespeel met tydvlakke (wydte) en vlakke van slaap (diepte) op maniere wat ek glad nie kan beskryf nie.

Image Credit: Aleksandar Mijatovic

Eros, Hypnos en Thanatos vervleg in my kop
Waar begin die een, en waar hou die ander op?
Die gordyn tussenin skif dunner as ‘n doek
Totdat hulle in mekaar vas gaan koek