Toe ek nog in die Janse van Rensburg familie ge-eg was, was die neefs ‘n groot deel van ons lewe.

Elke familie het mos maar sy swartskaap, en so was dit ook met my (eks)man se neef Jock. Of Jokkie het sommige mense hom genoem. Hy was ‘n liewe mens, slim en met ‘n goeie humorsin, maar ongelukkig nie baie lief vir ‘n stabiele lewe en werk nie. Hy het vir my iets verpersoonlik van die lewe wat ek nog nie geken het daardie jare nie. Opwinding en waagmoed. Hy het eienskappe gehad wat ek aan die een kant bewonder het, tog ook ‘n lewe wat mens dankbaar is jy ken nie. Hoe ook al, ons was almal lief vir ou Jock.

Hy was ‘n kleurryke figuur en baie streetwise. Almal het altyd sy stories geniet en my konserwatiewe pa was net so lief vir hierdie man wat ‘n tipe lewe gelei het, bitter ver van sy eie verwysingsraamwerk.

Neef Jock en neef Groot-Piet het saam beweeg in die sewentigs. Groot-Piet was die meer stabiele een met die werk, die kar, maar ook die schemes. Ek onthou die geel A5 logboekie waarin jy jou kar se petrolverbruik aanteken, wat hy ontwerp en laat druk het. Dit het ek vir hom teen 10c/boekie kommissie verkoop. Die boekie het teen R1.10 verkoop.

Neef Groot-Piet

Die twee neefs was baie slim, maar hulle slimpraatjies nog slimmer. Op ‘n manier was neef Groot-Piet ook neef Jock se behoud, hy kon hom lekker aanhits, maar Piet se grense was duideliker.

Klaarblyklik het neef Jock later jare rustiger weë bewandel. Hy was ook die enigste mens vir wie ek ooit in die tronk gaan besoek het. Die besoek aan hom in Pretoria Sentraal sal ek ook nie lig vergeet nie. Sy ma het nog so mooi dankie-sê briefie geskryf oor ons “twee rosies” se kuier en koekies wat soveel vir hom beteken het.

Neef Jock

Nou neef Jock was ook my eerste kennismaking met dagga, en hy het eenmaal gevra ek moet vir hom die sakkie goed hou. Ek was verskriklik preuts en ongelooflik naïef en wou die goed weggooi, maar was te bang. Sê nou dit spoel nie weg in die toilet nie? Sê nou iemand kry dit in die vullissak? Sê nou ek brand dit en iemand ruik dit? Uiteindelik het ek dit so goed weggesteek, ek het dit nie eers weer gekry toe ons getrek het nie.En ek dink met liefde terug aan Jock, wat nooit ‘n eie blyplek/huis gehad het nie.

Neef Groot-Piet het ‘n stabiele man uitgedraai, steeds slim, met ‘n lekker humorsin. Hy het my op Facebook opgespoor ‘n paar jaar gelede en dit was lekker om weer kontak te hê.

Verlede jaar is neef Jock oorlede. En vanoggend het Covid ook vir neef Groot-Piet gevat.

‘n Era is verby, en ek dink met die deernis en nostalgie van ‘n middeljarige terug aan die laat sewentigs, vroeë tagtigs, toe hierdie twee ‘n groot deel van my lewe was.

Nagedagte: Verlede jaar is swaer Piet ook oorkant toe, en my Ma. Ek is daagliks dankbaar daaroor, dat sy weg is en nie haar laaste dae in hierdie aaklige tye hoef te slyt nie. Dat sy kon leef toe sy en Piet nog kon lag. My ma het menige bord kos vir hierdie drie gekook, al was hulle net haar skoonseun se neefs. Sy was vir hulle lief soos ir kinders.

My ma en swaer Piet

There is nothing more important than a good, safe, secure home.
– Rosalynn Carter