Het jy al ooit Hiasint-bolle op klippe geplant? Dit laat jou huis so lekker ruik en dis boonop lekker om die proses dop te hou! As ek die woord Hiasint hoor, hoor ek Egipte. In ‘n baie besige straat in Caïro het ‘n taxibestuurder vir my ‘n stringetjie Hiasintblommetjies wat op gare ingeryg was gekoop, en ek het dit bewaar totdat dit self verbrokkel het.
Reg van die begin af was daar een bol wat beter as die ander gevaar het. Eerste wortel geskiet, eerste sy groen puntjie uitgestoot, en nou blom hy lank voor die ander. En hoekom? Dis die plein witte! Dit was ‘n pakkie met 1 wit, 1 pers en 2 nuwe hibriedes.
As ek terugdink aan ons kwekerydae was dit altyd waar vir ander plante ook. Die wit varkoor groei vinnig en maklik, maar probeer bietjie die gele of die pienke aan die lewe hou? Hy leef dalk vir een seisoen. Die helder oranje Clivias groei en blom en floreer, maar die skaars (en duur) geles en rooies? Petietserig verby. Watter Inca Lilies blom die beste? Die gewone rooi-bruines.
Net so staan daar in my waskamer ‘n stewige industrial size (en kwaliteit) Whirlpool wasmasjien en droër. Met ons gastehuis het ek hope beddegoed wat skoon en droog moet kom. Sou hierdie nuwerwetse wasmasjiene met die elektroniese goetertjies die punch kon vat? Ek twyfel. Toe ons hierdie week ‘n nuwe yskas moes koop, het ek begin soek na die plein yskaste, sonder snaakse meghaftertjies wat kan ys maak of lug uitsuig wat kan moeilikheid gee.
Ons het ook ‘n klein, maar betroubare kar, sonder enige onnodige elektriese komponente. Behalwe vir noodsaaklike dienste, nog nooit enige moeilikheid gehad nie. OK ons tel nie die keer toe daar ‘n ysterpen in lang gras versteek was waar ons parkeer het nie…
Nou voel ek sommer ook weer beter oor myself. Dalk steek daar tog meer in hierdie Plain Jane as in die opgetofde popsie wat ek vir soveel jare oor sleg gevoel het wat ek nie is of was, of ooit sal kan of wil wees nie…